Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rateltaai Willis maak sy debuut vir Engeland

Jack Willis, wie se 13-jarige hart tien jaar gelede gebreek is toe hy nie toelating tot London Irish se rugby-akademie kon kry nie, maak Saterdag sy debuut vir Engeland in ’n Nasiesbeker-toets teen Georgië.

Willis se verhaal is een wat mense se harte roer en daar is diegene wat voel dat hy lankal reeds speelkans vir die nasionale span moes gekry het.

Jack Willis se droom om vir Engeland te speel word eindelik hierdie naweek verwesenlik. Foto: Getty Images

Willis, wat inderdaad al sy buiging vir Engeland kon gemaak het as hy nie twee jaar gelede ’n ontydige besering opgedoen het nie, was hierdie seisoen een van die beste spelers in Engeland.

Daardie afrigters wat destyds gedink het Willis is nie goed genoeg vir London Irish se akademie nie skop hulself dalk vandag.

“Ek was vir ’n jaar lank nie eers meer lus vir rugby nie. Dit is ’n groot teleurstelling vir ’n 13-jarige om te verwerk,” het Willis in Oktober aan The Guardian vertel.

Hy het aangehou speel, eers vir ’n plaaslike klub in Reading waar hy gewoon het en later vir Wasps.

In 2018 het hy kookwater-rugby gespeel en Eddie Jones (Engeland se afrigter) het hom gekies om saam met die Rose na Suid-Afrika te toer vir ’n reeks van drie toetse teen die Springbokke.

’n Ernstige kniebesering het egter ’n stokkie daarvoor gesteek en Willis het begin wonder of hy ooit sy groot kans sou kry toe hy ’n jaar later steeds met dié besering gesukkel het.

Hy het egter vasgebyt, hard gewerk, en het as ’n sterker en beter speler teruggekeer.

Hy het ’n goeie houding en ons voel hy verdien ’n kans.

Verlede seisoen het hy byvoorbeeld 46 keer omkeerbesit bewerkstellig – meer as twee keer die getal wat enige ander speler in die Engelse Premierliga kon regkry.

Hy het Wasps gehelp om die eindstryd van die Premierliga te haal en is ook as die liga se Speler van die Jaar aangewys.

Dit was klaarblyklik steeds nie goed genoeg om hom ’n paar weke gelede ’n plek in Engeland se span vir die laaste Sesnasies-toets teen Italië te besorg nie.

Nou lyk dit of Jones weer onthou het waarom hy twee jaar gelede so van Willis gehou het.

“Hy het ’n goeie houding en ons voel hy verdien ’n kans,” het Jones Donderdag, toe hy sy span aangekondig het, gesê.

Engeland het nie ’n tekort aan goeie oopkant-flanke nie, maar Willis het die buitengewone vermoë om sy gewig te versprei sodat hy steeds van ’n lae liggaamsposisie byna nie van ’n bal weggestoot kan word nie.

“Hy is nie net ’n baljagter nie, hy is ook ’n goeie verdediger en aanvallende speler,” het Jones gesê.

“Ek dink hy kan die bal uitsnuffel, hy kry homself in goeie plekke op die veld en hy is van nature sterk, nie gimnasium-sterk nie. En hy is rateltaai.”

TV: Italië en Skotland is Saterdag om 14:45 slaags, waarna Engeland en Georgië mekaar om 17:00 op Twickenham pak. Albei wedstryde is op SS Variety 2 (kanaal 207).

• Die wedstryd tussen Frankryk en Fidji wat Sondag sou plaasvind, is van die baan nadat twee spelers van Fidji positief getoets is vir Covid-19.  – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Nasiesbeker  |  Engeland  |  Georgië  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.