Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Read groet Crusaders in styl

Kieran Read het Saterdag verlig en tevrede op sy spanmaats se skouers gesit terwyl hy die Superrugby-trofee vir oulaas omhoog gehou het.

Kieran Read, agtsteman van die Crusaders, hou Saterdag vir oulaas die Superrugby-trofee omhoog. Foto: Getty Images

Die Crusaders het dié titel ’n derde agtereenvolgende keer gewen deur die Jaguares 19-3 in die eindstryd te verslaan en dit was die span van Christchurch se tiende Super-kroon in die geskiedenis van die kompetisie.

Die 33-jarige Read sal ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi in Japan in dié land agterbly om sy loopbaan by Toyota Verblitz voort te sit.

Hy het reeds in 2007 sy debuut vir die Crusaders in die Superreeks gemaak.

“Dit (die span) het my alles gegee. Ek is baie lief vir die plek. Dit is so spesiaal. Ek is eerlikwaar so dankbaar dat ek die trui in so baie wedstryde kon dra.

“Ons het ’n groep begaafde spelers, ons steun mekaar en dit lei tot spesiale dinge op die veld.

“Dit gaan hartseer wees om die laaste paar dae in heroënskou te neem, maar ek kon nie my rugby vir ’n beter span gespeel het nie,” het die All Black-kaptein gesê.

Read is nie die enigste speler wat die Crusaders groet nie.

Die senter Ryan Crotty, stut Owen Franks en die flank Matt Todd, ook almal All Blacks, gaan ook oorsee speel.

Die klipharde losvoorspeler Jordan Taufua, wat verlede seisoen by die All Black-groep ingesluit is maar weens ’n besering nooit ’n kans gekry het nie, is ook op pad.

* Gonzalo Quesada, die Jaguares-breier, het ná die eindstryd gesê sy span se opgang vanjaar in die kompetisie, is ’n goeie teken vir Argentinië in die Wêreldbeker-toernooi later die seisoen.

Hoewel die tuisspan uiteindelik ’n gerieflike sege behaal het, het die Jaguares die Crusaders lang rukke onder groot druk gehad.

Quesada het gesê daar was “trane van frustrasie” in die kleedkamer, terwyl Pablo Matera gehuiwer het om sy Speler van die Wedstryd-toekenning te ontvang.

Die Jaguares-flank Pablo Matera het ’n briljante werkesel-vertoning teen die Crusaders gelewer. Foto: Getty Images

“Dit is goed om te weet dat ons hierheen gekom het om te wen.

“Die laaste ding wat ek wou hê, was dat die spelers bloot daarmee tevrede sou wees om in die eindstryd te speel.

“Dit was die grootste prestasie vanjaar, die geloof wat die span in homself gehad het en dit wat die spelers wou bereik.

“Hulle sal dié selfvertroue na die Rugbykampioenskap vat en dit is ’n goeie voorbode vir die Wêreldbeker-toernooi.”

Quesada sê die Jaguares se voortgesette sukses sal die spel meer blootstelling in ’n sokkermal Argentinië gee.

“Dit was geskiedkundig. Niemand het dit (’n plek in die eindstryd) verwag ’n paar jaar gelede nie. Eintlik nie eens aan die begin van die seisoen nie.

“Ons weet hoe ’n groot voorreg dit is om aan die kompetisie deel te neem en ons teen die room van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië te meet,” het Quesada gesê. – Reuters

Meer oor:  Kieran Read  |  Superrugby-Eindstryd  |  Crusaders  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.