Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wêreldsewesreeks: Mans se toernooie verkort om plek te maak vir vroue
Rebellie broei oor rugbybase se planne

Sewesspelers en -afrigters is briesend vir Wêreldrugby oor die veranderinge wat aan die sewesreeks aangebring is om ’n vroue-reeks in te sluit.

Die toevoeging van die vroue-reeks het reeds tot grootskaalse veranderinge aan minstens vier van die tien toernooie gelei.

Spelers en afrigters wil ’n amptelike grief teen Wêreldrugby by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS) lê.

’n Blitsbok-ondersteuner tydens verlede naweek se Kaapstad-sewestoernooi.Foto: jaco marais

Só ’n drastiese stap kan rugby se toekoms op die Olimpiese Spele beïnvloed.

Die toevoeging van die vrouereeks het daartoe gelei dat die onlangse Kaapstad-sewestoernooi oor drie dae beslis is.

Dit gaan ook tot grootskaalse veranderinge by die volgende twee toernooie, in Hamilton (Nieu-Seeland) en Sydney (Australië) lei.

Volgens Wêreldrugby se nuwe formaat sal net die groepwenners – en nie twee spanne soos in die verlede nie – in die Bekerkompetisie regstreeks deurdring tot die halfeindronde. Dit beteken dat die vier kwarteindwedstryde deur die mat val.

Die veranderinge aan die toernooie in Hamilton en Sydney is gedoen om die mans- en vroue-toernooie binne twee dae af te handel.

Verskeie spanbestuurders en administrateurs met wie Rapport gesels het, sê die besluite is teen die wil van die spelers en afrigters geneem.

Daar is geen ruimte vir ’n fout nie.

Afrigters sê om veranderinge in ’n Olimpiese jaar aan te bring, grens aan malligheid.

Die Blitsbokke is vir die Hamilton-toernooi in dieselfde groep as Engeland en Kenia geloot. Hulle was in Kaapstad saam met Fidji en Amerika geloot – spanne wat verlede jaar onderskeidelik eerste en tweede in die sewesreeks geëindig het.

Volgens die nuwe formaat kan dit beteken dat ’n span nie die uitspeelrondes sal haal as hy ’n enkele wedstryd verloor nie.

Dit het telkens in die verlede gebeur dat ’n onervare skeidsregter ’n fout begaan wat nou ’n span se einde kan beteken, want daar is geen tweede kans nie.

Daar word verder gevra of die toevoeging van die vroue-toernooie nie ’n suksesvolle resep gaan ondermyn nie.

Een van die oorsese afrigters het aan Rapport gesê: “Spelers en afrigters is boos.

“Die veranderinge beïnvloed nie net die loting vir die Olimpiese Spele negatief nie, maar dit bring ook die integriteit van die spel en die genot om te speel in die gedrang.

“Die spelers het geen probleme met die huidige formaat nie – waar elke span punte in elke toernooi verdien.

“Die Internasionale Rugbyspelersvereniging (IRPA) is bewus van die ontevredenheid en ons oorweeg dit om CAS te nader om betrokke te raak. Dit kan ook die Olimpiese Spele-komitee betrek.

“Ongelukkig is al die besluite geneem deur ’n paar individue by Wêreldrugby wat die raad en insette van die spelers, afrigters en hoëprestasiebestuurders geïgnoreer het in ’n poging om die reeks vorentoe toe te neem.

“Dink daaroor, as ons dié formaat in die Wêreldbekertoernooi in Japan gebruik het, sou die Springbokke nooit die Wêreldbeker kon wen nie omdat hulle nie die groepfases sou oorleef het nadat hulle slae teen die All Blacks in die groepronde gekry het nie.”

In die Kaapstad-sewes was daar ook klagtes omdat daar tot sewe ure tussen wedstryde was, wat baie langer was as die gemiddeld van vier ure tussen wedstryde.

Neil Powell, die Blitsbokke se afrigter, het ook sy kommer oor die formaat uitgespreek toe Rapport hom daaroor gepols het.

“Die gevare wat die formaat in Hamilton en Sydney inhou, is dat daar nie ’n tweede kans is nie. Waar jy voorheen ’n groepwedstryd kon verloor het, maar steeds tot die kwarteindronde deurdring, is daar nou geen ruimte vir ’n fout nie. Jy móét bo eindig om deur te gaan,” het Powell gesê.

“Ons sal dit benader soos elke toernooi, een wedstryd op ’n slag. Ons sal probeer om bo in ons groep te eindig, maar in ’n groep saam met Engeland en Kenia, kan enige span wen.”

  • Rapport het WhatsApp-boodskappe en e-pos-navrae aan Mark Egan, Wêreldrugby se seweshoof, asook die woordvoerder, Dominic Rumbles, gestuur, maar hulle het teen druktyd nog nie daarop gereageer nie.
Meer oor:  Sewesreeks  |  Wêreldrugby  |  Afrigters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.