Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rebels soek nuwe tuisveld weens Covid-19

Die Melbourne Rebels gaan gedwing word om ’n neutrale stadion buite hul staat te vind vir hul Superrugby AU-tuiswedstryd teen die Reds nadat die Queensland-regering streng kwarantynmaatreëls vir sportspanne aangekondig het.

Billy Meakes van die Rebels aan die oefen in Melbourne. Foto: Getty Images

Australië het Maandag sy grootste toename in Covid-19-infeksies in meer as twee maande gehad (85) en die meeste van dié gevalle (75) was in Melbourne, Victoria se hoofstad.

Queensland, wat geen nuwe gevalle aangemeld het nie, het gevolglik besluit dat enige sportspan in dié staat wat teen ’n span van Victoria gespeel of in die voorafgaande twee weke in Melbourne in aksie was vir 14 dae in kwarantyn moet gaan.

Die Rebels is geskeduleer om die Reds van Queensland in die tweede ronde van die Superrugby AU-reeks, wat dié naweek afskop, in Melbourne die stryd aan te sê. Dié franchise, wat verwag het dat daar dalk sulke maatreëls afgedwing kan word, het derhalwe verlede week al na Canberra gereis, waar hy Vrydag teen die Brumbies te staan kom.

Sou die Rebels nie na Melbourne terugkeer ná die Brumbies-kragmeting nie, beteken dit dat hulle dan al langer as 14 dae uit Victoria sou gewees het en die Reds nie in kwarantyn hoef te gaan nadat hulle teen die Rebels gespeel het nie.

“Die Melbourne Rebels kan bevestig dat ons tans na alternatiewe opsies kyk om ons wedstryd teen die Reds in Nieu-Suid-Wallis aan te bied,” het dié span Maandag in ’n verklaring gesê.

Luidens ’n berig op rugbypass.com is die Leichardt Oval en Brookside Oval (albei stadions in die Sydney-streek) tans die sterkste kandidate.

Volgens die Rebels het 50 van hul spelers, afrigters en spanbeamptes die laaste ruk gereeld Covid-19-toetse ondergaan en het niemand sover positief getoets nie.

Queensland se nuwe kwarantynreëls gaan nie net die Superrugby AU-reeks se bepalingslys deurmekaar krap nie, maar ook tot ontwrigting in ander Australiese beroepsportsoorte soos rugbyliga, netbal, krieket en Australiese voetbal (Aussie Rules) lei.

Australiese voetbal kan trouens die ergste geraak word, aangesien tien van die 18 spanne in die AFL in Melbourne gesetel is.

“Ons weet nie veel van die fyner besonderhede van waarheen ons gaan of waar ons vorentoe gaan speel nie, maar ek weet ook nie of daar op die oomblik te veel kommer daaroor is nie,” het die Rebels-speler Billy Meakes Maandag gesê.

“Dis buite ons beheer . . . veiligheid is die eerste prioriteit vir almal in die kompetisie en ons probeer doen wat gedoen moet word om terug op die veld te kom. Ek dink die oorwegende emosie is die opgewondenheid om te kan speel.” – Reuters, Rugbypass

Meer oor:  Rebels  |  Koronavirus  |  Superrugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.