Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok en sy Woodstock-partytjie

’n Paar jaar voor Wynand Claassen een van die min Springbok-kapteins met lang hare geword het, kon hy weens ’n oogbesering nie enige rugby speel nie, toe reël hy maar sy eie Woodstock-tipe musiekfees.

Claassen, nou ’n 69-jarige kaalkop, was van kleins af mal oor musiek en hy sou later ook musiek gebruik om sy spanmaats voor wedstryde te motiveer.

Die oud-Springbok-kaptein Wynand Claassen en sy vrou, Jeanette, met ’n paar van sy gunstelingplate. Foto: Verskaf
Wynand Claassen en sy seun Antonie (regs) verlede jaar by ’n geleentheid in Johannesburg saam met ’n meer onlangse Springbok-kaptein, Warren Whiteley. Antonie het vir Frankryk toetsrugby gespeel. Foto: Gallo Images

Maar in 1978 was hy nog ’n selferkende rebel, wat teen die establishment geskop het. Die Woodstock-fees wat in 1969 in Amerika gehou is, het ’n groot indruk op hom gemaak en toe besluit hy, kom ons maak ook so!

“Ek het in ’n kommune naby Loftus (in Pretoria) gewoon. Dit was intervarsity, Tukkies teen Maties, maar ek was uit met ’n oogbesering,” vertel Claassen hierdie week.

“Ons (hy en sy maats) reël toe ons eie Woodstock agter in ons tuin. Piet Botha het toe ook by Tukkies geswot en ons kry hom en sy band om musiek te maak en ons kry vir Anneline Kriel (die skoonheidsgodin wat met een van sy vriende uitgegaan het) om die fees met sjampanje te begin.”

Wilde ding! Die jong rebel in aksie vir Tukkies. Wynand Claassen was ’n kranige losvoorspeler. Foto: Gallo Images
’n Bebaarde Wynand Claassen in 1977 in aksie vir Noord-Transvaal teen ’n Wêreld-uitnodigingspan. Foto: More than just rugby

Wynand-hulle het al die meisies verniet by die hek laat inkom, maar die mans moes 50c betaal.

“Ons het ’n k**huis vol geld gemaak!” sê Claassen al laggend.

Musiekgroepe soos The Beatles, The Rolling Stones en The Doors en sangers soos Bob Dylan het ’n groot invloed op hom gehad. Hy het sy hare lank laat groei en het nes die Beatle John Lennon ’n bril met ronde lense begin dra.

In dieper oomblikke het hy behaaglik aan ’n pyp gesuig en die gedigte van Breyten Breytenbach sit en lees.

In Tommy du Plessis het hy iemand gevind wat sy liefde vir musiek gedeel het. Du Plessis, wat ook in ’n paar toetse vir die Springbokke op skrumskakel uitgedraf het, het jare lank saam met Claassen vir Tukkies en die Blou Bulle gespeel.

Tommy du Plessis, wat ook vir Noord-Transvaal en die Springbokke gespeel het, en Wynand Claassen het graag saam musiek geluister. Foto: Oggendblad

“Tommy se hare was nog langer as myne. Dit was hy wat my aan die meer heavy rockmusiek bekend gestel het,” sê Claassen.

Partykeer wens Claassen hy het die moeite gedoen om ’n instrument te leer speel. Dalk die kitaar.

“My ma het my probeer leer klavier speel toe ek klein was, maar dan het ek gehoor hoe speel my maats daar buite en die rugbybal het elke keer gewen,” sê Claassen.

Sy ma en pa was baie musikaal en die toekomstige Bok-kaptein is van kleins af aan musiek blootgestel.

Dit was egter toe Claassen se suster (Maryna) na Elvis Presley begin luister het, dat hy waarlik gevoel het hoe die rooimiere sy voete begin kou.

“My broer George het daardie tyd van Pat Boone se musiek gehou. Ek en hy het baie baklei oor wie die beste was, Elvis of Pat Boone!” onthou Claassen.

Deur die jare het Claassen ’n indrukwekkende versameling plate opgebou. Vandag het hy meer as 700 plate en besit hy steeds twee hi-fi’s.

Wynand Claassen by een van sy vele kratte plate. Foto: Verskaf

Hy het ’n wye verskeidenheid van plate en as hy eers begin musiek praat, kry jy hom byna nie stil nie.

In een sin noem hy maklik Dylan, Jethro Tull, Jim Morrison en The Doors, Uriah Heep, Pink Floyd, Supertramp en Deep Purple.

Ná hy asem geskep het, gaan hy dan sommer aan oor die Belgiese sanger Jacques Brell, die Griek Mikis Theodorakis en die Franse legendes Edith Piaf en Georges Moustaki.

Plaaslike kunstenaars bly ook nie agter nie. Dis Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis en Richard van der Westhuizen en Valiant Swart en veral David Kramer.

“Toe ons (die Bokke) in 1981 in Nieu-Seeland was, het ons na David Kramer se lied ‘Hak hom, Blokkies’ in die bus geluister op pad wedstryde toe,” vertel Wynand.

Hy en Kramer het mekaar ná die toer beter leer ken en dit was vir Claassen baie spesiaal toe die sanger se promotor hom van Durban (waar hy toe gewoon en vir Natal rugby gespeel het) af opgevlieg het Johannesburg toe om Kramer se goue plaat aan hom te oorhandig.

Claassen het nie by “Hak hom, Blokkies” vasgehaak wanneer hy deur die jare spanpraatjies gehou of sy spanmaats probeer motiveer het nie.

Een van Wynand Claassen se gunstelingplate – David Kramer se Bakgat!

“Die een Vrydag in 1982 voor ’n wedstryd tussen Natal en Transvaal het ek die hele Natal-span saamgesleep fliek toe om The Wall (waarin Pink Floyd se musiek gebruik word) te gaan kyk,” giggel hy.

Claassen sê hy wens hy kon in sy speeldae soos vandag se spelers voor wedstryde oor hul oorfone na musiek luister om hom te motiveer.

“In my tyd moes ons maar na ’n kasset luister in die motor op pad veld toe!”

Die Bokke het die tweede toets teen die All Blacks in 1981 in Wellington gewen. Baie tevrede in die kleedkamer sit Gerrie Germishuys, Wynand Claassen, Naas Botha en Gysie Pienaar. Foto: More than just rugby

Claassen het eindelik in sewe toetse vir die Bokke gespeel, waarin hy al sewe keer die kaptein was.

Hy woon weer in Pretoria, waar hy en sy vrou, Jeanette, ’n gastehuis bedryf.

“Ek het ook steeds my argitek-praktyk en wanneer ek tyd kry, skilder of teken ek graag. Natuurlik met musiek in die agtergrond aan!” groet Claassen.

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Bokke  |  Springbokke  |  David Kramer  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.