Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Reënboog-Bokke mik hoog teen Aussies

’n Opwindende mengsel van jeug en ervaring, die terugkeer van verlore seuns en nuwe grond vir transformasie.

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, het sommer met die intrapslag vanjaar ’n span gekies wat die braaivleisvure lank sal laat brand voor Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen Australië op Ellispark in Johannesburg.

Lizo Gqoboka oefen saam met die Springbokke in aanloop tot die naweek se toets teen Australië op Ellispark. Dié sterk stut is een van die groentjies in die span en begin op die plaasvervangerbank. Foto: Gallo Images

Terwyl die span aan ’n handvol van Suid-Afrika se topspelers ontbreek, kan dit beswaarlik as ’n “B-span” bestempel word.

Daar is immers gevestigde spelers soos Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Tendai Mtawarira, Elton Jantjies en Jesse Kriel in die beginspan.

Of Frans Steyn ’n rol het om te speel vir die Bokke in vanjaar se Wêreldbeker (WB)-toernooi kan ook straks Saterdag onthul word nadat hy op die plaasvervangersbank gekies is.

Twee ander verlore seuns – die skrumskakel Cobus Reinach en losvoorspeler Marcell Coetzee – tel ook onder die manne wat van die bank af kan kans kry.

Op die transformasiefront is daar agt gekleurde spelers in die beginspan. Dis die eerste keer tot nog toe dat daar meer gekleurde as wit spelers in ’n Bok-beginspan is.

Dié reënboogspan word in Siya Kolisi se afwesigheid deur Etzebeth aangevoer.

Rassie Erasmus, Bok-afrigter, verduidelik Woensdag in Johannesburg sy spankeuses aan die media. Foto: Gallo Images

Daar is twee debutante in die beginspan in die skrumskakel Herschel Jantjies en flank Rynhardt Elstadt. Die stut Lizo Gqoboka kan straks ook sy buiging van die plaasvervangersbank af maak.

“Ek wil vir Rynhardt, Herschel en Lizo gelukwens op hul eerste insluiting in ’n Bok 23-tal, terwyl ’n leiersrol vir Eben niks nuut is nie,” het Erasmus Woensdag gesê.

Saterdag se toets is die eerste van net vyf vir die Bokke in die aanloop tot die WB-toernooi in Japan. Die Bokke se veldtog skop op 21 September teen die All Blacks in Yokohama City af.

Erasmus stel dit egter duidelik dat die Bokke hoog mik in vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap eerder as om dit net as ’n beplanningsoefening vir die WB-toernooi te beskou.

“Ons wil die Rugbykampioenskap wen. Ons glo dit is die regte kombinasie vir ’n baie goeie en mededingende Australiese span,” sê hy.

“Ons het ’n goeie aanloop tot dié toets gehad en daar heers ’n baie lekker gevoel. Australië het baie goed voorberei en het twee weke op die Hoëveld deurgebring om te akklimatiseer, so dit behoort ’n baie goeie stryd te wees.”

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Rassie Erasmus  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.