Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Reënboog’ kan deurslag gee vir Bokke

Die Reënboogbeker-kompetisie kan van deurslaggewende belang wees vir die Springbokke se kans om die Britse en Ierse Leeus later vanjaar in hul toetsreeks te troef.

Só meen Duane Vermeulen, die Bokke en Bulle se agtsteman-yster, wat Donderdag as Suid-Afrika se rugbyspeler van die jaar gekroon is.

Duane Vermeulen, kaptein van die seëvierende Bulle in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reeks, was ’n maklike keuse as Saru se speler van die jaar vir 2020. Foto: Gallo Images

“Ek dink dit sal aansienlik tot ons voordeel strek om in die Reënboogbeker-kompetisie te speel. Ons sal speel teen ouens wat dalk vir die Leeus gekies gaan word en dis ’n geleentheid om aan die toestande daar gewoond te raak,” het Vermeulen op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“As dit daarop neerkom dat die reeks teen die Leeus in Europa of Brittanje gespeel moet word, sal dit vir ons baie goed wees om vooraf in daardie toestande te speel.”

Saru het in Desember verlede jaar aangekondig Suid-Afrika sal aan die Reënboogbeker-reeks deelneem. Die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers gaan teen 12 klubs uit Ierland, Wallis, Skotland en Italië speel.

Die plan is dat die reeks op 17 April begin met die eindstryd op 19 Junie. Dit kan beteken dat Suid-Afrika se spanne oorsee in ’n bioborrel sal moet wees.

“Ek dink vir die franchises en Suid-Afrikaanse rugby is dit baie belangrik om daar te gaan speel,” het Vermeulen gesê.

“Ons is nou klaar met Superrugby en het iets anders nodig. Ons kan nie net plaaslike rugby speel nie, want ons sal dan agteruitboer. Ons het ’n ander uitdaging nodig en ons as franchises hoop om die groen lig te kry om in daardie kompetisie te speel.”

Vermeulen het gesê dit sal hartseer wees indien die reeks teen die Leeus nie in Suid-Afrika gespeel gaan word nie, maar hy is ten gunste daarvan om aanpasbaar te wees sodat die wedstryde wel gespeel kan word.

Die Leeus-toer word alom gesien as kritiek belangrik vir die finansies van Suid-Afrikaanse rugby en van die provinsies maak reeds staat op die inkomste wat hulle daaruit gaan kry.

Dit sal jammer wees as dit nie in Suid-Afrika gebeur nie, maar ons moet aanpasbaar wees.

“Ons sal die Leeus baie graag in Suid-Afrika wil hê. Dis nie net ’n geval van hulle wat slegs elke 12 jaar kom nie, dis ook hoe die ekonomie gestimuleer sal word deur die massas mense wat Suid-Afrika toe kom en ponde bestee. Die toerisme-bedryf sal baie baat,” sê Vermeulen.

“Dit sal jammer wees as dit nie in Suid-Afrika gebeur nie, maar ons moet aanpasbaar wees. As dit daarop neerkom dat ons daar moet speel, kan daar niks aan gedoen word nie. Die belangrikste ding is dat die wedstryde gespeel word.

“Ons het die afgelope klompie maande geen toetsrugby gespeel nie. As ons net kan speel, ongeag waar dit is, sal dit positief wees vir Suid-Afrikaanse rugby.”

Vermeulen hoop dat die Bokke die voordeel van ’n paar opwarmwedstryde sal hê om hulle weer gewoond te kry aan die intensiteit van toetsrugby.

“Baie van die Leeus-spelers sou deur die Sesnasiesreeks in ’n internasionale opset gewees het en gewoond wees aan toetsrugby,” het hy gesê.

“Vir ons sal die fokus daarop wees om te sien hoe vinnig ons weer kan optel van waar ons 2019 afgesluit het en om deur die reeks bestendig te speel.”

Daily Mail het vandeesweek berig dat die vier toetse waarskynlik in Cardiff, Dublin, Edinburg en Londen gespeel gaan word.

Indien die reeks in Suid-Afrika voortgaan, sal daar slegs drie toetse wees.

• Vermeulen is intussen ook as Suid-Afrika se Superrugby- en Unlocked-speler van die jaar aangewys.

Jake White was ’n logiese keuse vir afrigter van die jaar nadat sy Bulle-span die Unlocked- en Curriebeker-reeks gewen het. Die Bulle is ook die span van die jaar.

Die ander pryswenners is:

Jong speler van die jaar: Wandisile Simelane

Springbok-sewesspeler van die jaar: Stedman Gans

Curriebeker-speler van die jaar: Cornal Hendricks

Skeidsregter van die jaar: Jaco Peyper

Meer oor:  Bokke  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.