Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dís waarom Reënboog-reeks sneuwel

Die organiseerders van die Reënboogbeker-reeks het selfs oorweeg om Suid-Afrika se spanne in die Midde-Ooste te setel in ’n poging om hulle in Europa te kan laat deelneem.

“Maar die stukke van die legkaart wou nie betyds in plek val vir ons om daardie planne in werking te stel nie,” sê Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), in hul amptelike verklaring oor die kansellering van die oorspronklike weergawe van die toernooi.

Saru het Woensdag bevestig dat die vier Suid-Afrikaanse spanne en 12 Europese spanne wat in dié kompetisie sou slaags wees nou in aparte toernooie sal speel.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Getty Images

Die Europeërs sal voortgaan met hul beplande skedule, in ’n “noordelike” Reënboogbeker.

Die Suid-Afrikaanse kompetisie sal die Reënboogbeker SA-reeks genoem word. Die vier spanne sal reeds van volgende naweek af oor ’n tydperk van sewe weke ’n weg- en ’n tuiswedstryd teen elk van die ander speel. Die wedstryde wat hierdie naweek sou plaasvind (tussen die Stormers en Haaie in Kaapstad en die Bulle en Leeus in Pretoria), skuif met 'n week aan.

Die Britse en Ierse Leeus is geskeduleer om oor minder as 11 weke in Suid-Afrika aan te kom vir hul toer.

Die jongste verwikkelinge in die Reënboogbeker is ’n direkte gevolg van Suid-Afrika se status as ’n “rooilysland” wat Covid-19-risiko betref.

“Dis ’n reuseteleurstelling, maar ons tyd het eenvoudig opgeraak,” sê Roux. “Alles moontlik is gedoen om ’n oplossing te probeer vind vir ons uitdagings – insluitend om ons spanne vir tien dae in die Midde-Ooste of Europa te setel.”

Luidens die verklaring het beamptes van Saru en Pro14-rugby die afgelope maande ’n lang lys van moontlike opsies vir basiskampe, ingangsroetes in Europa en mediese protokol opgestel en etlike scenario’s oorweeg. Altesaam 12 plekke in Europa, asook vier plekke elders, is oorweeg, met die volle samewerking van die betrokke regerings en inagneming van die verspreiding van die Covid-19-situasie in al die lande.

“ ’n Ongelooflike hoeveelheid werk is gedoen om oplossings te probeer vind terwyl ons die uitdagings van tweede en derde golwe van Covid-19 en die variant in Suid-Afrika in ag moes neem,” sê Martin Anayi, uitvoerende hoof van Pro14-rugby. “Van ons unies, ons personeel en SA Rugby kon ons nie meer vra in die opstel van planne wat medies geskik was nie. Maar ’n volmaakte oplossing kon nie betyds gevind word om Suid-Afrikaanse spanne in ons areas toe te laat nie.”

Anayi sê die proses was nogtans goed vir betrekkinge.

“Terwyl die uitkoms anders is as waarop ons gehoop het, is ons verhouding en vennootskap met SA Rugby ná hierdie ervaring baie sterker en beter. Ons sien uit na die twee Reënboogbeker-kompetisies en sal op ’n geleë tyd meer oor ons verwagtinge van ons toekomstige vennootskap sê.”

Meer oor:  Haaie  |  Pro14  |  Stormers  |  Leeus  |  Europa  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.