Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Reënboogbeker: Nienaber soek gemoedsrus

Wanneer die 2021-seisoen in die Suid-Afrikaanse rugbyjaarboek opgeteken word, sal dít wat in die plaaslike Reënboogbeker-kompetisie gebeur het van minder belang wees.

Die vier voorste spanne in die land pak mekaar die komende naweek in die eerste van ses rondes in dié nuwe reeks.

Vanjaar is die besoek van die Britse en Ierse Leeus die alfa en omega en die Reënboogbeker-derbies is van groter belang uit ’n nasionale oogpunt as watter span die beste in die kompetisie was.

Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, sal oor die volgende paar weke bevestiging wil kry oor die wêreldkampioen se vooruitsigte teen die Leeus.

Die Bok-lostrio in die laaste toets in 2019 in Japan, Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit en die kaptein, Siya Kolisi, het almal speeltyd nodig.

Pieter-Steph du Toit strek verlede week gedurende ’n oefensessie van die Stormers in die Kaapstad-stadion. Kan dié Bok-talisman sy peil ná ’n lang afwesigheid in die komende Reënboogbeker-derbies herwin? Foto: Gallo Images

Vermeulen sal na verwagting eers aanstaande naweek weer vir die Bulle teen die Stormers in Kaapstad kan speel nadat hy in Februarie ’n knieoperasie gehad het.

Du Toit het die reeks broodnodig om bo alle twyfel te wys hy is ná die beenbesering wat hom sowat ’n jaar uit die spel gehou het weer gereed vir toetsrugby.

Ook Kolisi, wat hom ná die Curriebeker-kompetisie by die Haaie aangesluit het, het ’n paar sterk vertonings nodig om Nienaber gemoedsrus te gee.

Sy vertonings vir die Westelike Provinsie in verlede seisoen se Curriebeker-reeks het veel te wense oorgelaat.

Die Stormers-voorry, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe, het tyd saam in die voorry nodig om weer lekker op dreef te kom.

Ander spelers, soos Cornal Hendricks (Bulle), Curwin Bosch (Haaie) en Damian Willemse (Stormers), kan hul kanse om in die toetsreeks teen die Leeus te speel verstewig.

Wedstryde teen van die voorste klubs in Wallis, Ierland, Skotland en Italië sou vanselfsprekend beter voorbereiding gewees het, maar dit is ’n gedane saak weens die Covid-19-pandemie.

Wedywering tussen die Bulle, Leeus, Stormers en die Haaie sal nou moet deug voor die Leeus in Suid-Afrika aankom.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, het Vrydag in ’n verklaring gesê dit sou goed gewees het om die Suid-Afrikaanse spanne teen die krag van Europese rugby te sien speel.

“Ons gaan ’n bietjie langer moet wag voor ons teen daardie spanne te staan kom, maar ons het intussen ’n taai kompetisie wat ons spelers hopelik sal voorberei vir dit wat beloof om ’n enorme toetsreeks teen die Leeus te wees.”

By Loftus Versfeld word die komende derbies beskou as ’n geleentheid om te bevestig dat Vermeulen se Ligbloues nou die keur in Suid-Afrikaanse rugby is.

Die Curriebeker-kampioen spring Saterdagaand op sy tuisveld weg teen die Leeus ná die Stormers en die Haaie in die Kaapstad-stadion kragte gemeet het.

Die Haaie ontvang die Leeus volgende Saterdag in Durban, waarna die Bulle hul amptelike debuut in die Kaapstad-stadion teen die Stormers maak.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Haaie  |  Bokke  |  Stormers  |  Leeus  |  Europa  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Bulle  |  Reënboogbeker  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.