Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Regering moet rugby-bioborrel subsidieer’

Die feit dat rugby die een sportsoort in Suid-Afrika is wat al drie Wêreldbekers kan wys, moet beslis vir iets tel wanneer daar besluit gaan word oor die terugkeer van dié sportsoort.

Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus, glo die regering moet daarvan ’n prioriteit maak om rugby se hervatting te bespoedig. Foto: Gallo Images

So sê Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus wat self in 1995 gespeel het toe die Springbokke die eerste keer as die wêreldkampioen gekroon is. Daarna het nog sukses in 2007 en ook verlede jaar met die Webb Ellis-trofee gevolg wat ’n tuiste in Suid-Afrika gekry het.

Dit is ’n veer in die hoed wat Straeuli voel die regering nie sommer net sal kan miskyk wanneer daardie besluit gemaak word om rugby weer sy regmatige plek op die sportkalender te laat inneem nie.

“Ek voel dit is nodig dat rugby in die land so gou as moontlik aan die gang kom. Wanneer daardie besluit gemaak word, glo ek rugby moet erken word vir wat hy al in die land vermag het sedert eenwording en die rol wat die sport speel om Suid-Afrikaners bymekaar te bring en te verenig,” sê Straeuli.

“Die behoefte om weer rugby plaaslik te speel en te kyk is baie hoog. Daar is die sterk moontlikheid dat die terugkeer binne ’n bioborrel in ’n sekere streek sal plaasvind, maar die koste daaraan verbonde gaan baie hoog wees. Dit sal baie help as die regering dit kan subsidieer, want daar gaan beslis fondse voor nodig wees.”

Luidens ’n berig in Rapport word bespiegel dat die aanbied van ’n Curriebeker-reeks in ’n bioborrel soveel as R100 miljoen kan beloop.

Die regering help sokker se terugkeer subsidieer en Straeuli glo dat rugby ’n les uit die boek van die PSL (Premier-sokkerliga) kan neem oor hoe hulle dinge gaan doen.

Van die sokkerwedstryde gaan in die Johannesburg-stadion en Ellispark gespeel word waar die Leeus se rugbyspan ook hul oefeninge hou en hul wedstryde speel.

Sou dit gebeur dat die Leeus in die Johannesburg-stadion oefen op ’n dag wanneer daar ’n sokkerwedstryd gespeel sal word, moet hulle drie ure voor die sokker begin uit die stadion wees.

Wat die moontlike teenwoordigheid van toeskouers by rugbywedstryde betref, sê Straeuli dit sal goed wees as hulle toegelaat kan word.

“Daar sal wel vrese by mense wees rakende die virus om na stadions te kom, maar dit is iets wat oorkom kan word,” sê hy.

“Op die oomblik is ons lot in die hande van die regering en hopelik sal die regte besluite gemaak kan word in almal se beste belang. Tog is dit die veiligheid van mense wat voorop gestel moet word en daar die regte balans moet gekry word tussen die veiligheid en om die sport weer te laat herleef.”

Die sportministerie het verlede week in die Staatskoerant regulasies gepubliseer wat die weg vir kontakoefeninge baan en vir wedstryde om in leë stadions te hervat. Dit is egter daaraan onderhewig dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se planne om kontakoefeninge en wedstryde veilig aan te bied goedgekeur word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Nathi Mthethwa  |  Leeus  |  Rudolf Straeuli  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Psl  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.