Die Springbok-slot Eben Etzebeth was nie aandadig aan rassisme of aanranding nie.
So het oudregter Johann van der Westhuizen bevind in ’n interne ondersoek wat SA Rugby gelas het ná ’n beweerde voorval verlede jaar by Langebaan aan die Kaapse Weskus.

Eben Etzebeth
Die ondersoek en bevinding is al geruime tyd afgehandel, maar SA Rugby het op regsadvies besluit om dit nie openbaar te maak nie. Rapport kon egter vasstel dat Van der Westhuizen die volgende bevindings gemaak het:
•Daar kan geen gronde gevind word vir ’n saak teen Etzebeth nie;
• SA Rugby word vermaan om ’n gesprek met Etzebeth te hê om hom deeglik bewus te maak van die gevolge wat die optrede van ander mense vir hom kan hê en hoe dit hom in ’n slegte lig kan stel;
• SA Rugby moet sulke gesprekke met alle Springbokke hê. Spelers moet bewus wees van die skade wat mense na aan hulle kan veroorsaak.
SA Rugby het by navraag gesê hulle beskou die ondersoek as afgehandel.
Rapport het verneem die beheerliggaam het regsadvies ontvang dat hulle weens die vertroulike verhouding tussen werkgewer en werknemer nie die verslag mag openbaar maak nie.
Etzebeth se prokureur, André Calitz, het gesê hulle verwelkom die uitslag.
“Ons het van die begin af nog geensins ons saak verander nie, want dit is nie nodig nie. Eben het homself in geen stadium skuldig gemaak aan enige laster of aanranding nie en het sy onskuld ten alle tye bewys.
“Dis net ’n verdere bewys van sy onskuld,” het Calitz gesê nadat Rapport hom oor die uitslag van die ondersoek ingelig het.

Oudregter Johann van der Westhuizen
SA Rugby het nie Van der Westhuizen se verslag met die Etzebeth-kamp gedeel nie.
Benewens Van der Westhuizen het die Menseregtekommissie (MRK) en die polisie ook Etzebeth se optrede ondersoek.
Adv. Bongani Majola, MRK-voorsitter, het gesê hul saak is hangend totdat die haatspraak-klag teen die oud-omroeper Jon Qwelane afgehandel is.
“Die landdros wat die saak in die gelykheidshof hanteer, het aanbeveel dat die saak oorstaan totdat die konstitusionele hof uitspraak lewer oor die Qwelane-saak.”
Dit is nie duidelik wanneer dit sal gebeur nie.
Die NVG het nog nie besluit of hulle Etzebeth strafregtelik gaan aankla nie, berig Dawie Boonzaaier.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG in die Wes-Kaap, sê die aanklaer wat die saak hanteer, kon nie redes aan hom verskaf oor hoekom daar nog nie ’n besluit geneem is nie.
25 Julie was dit al 11 maande sedert die voorval in Langebaan.