Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Reinach moes keer teen trane op Ellispark
Cobus Reinach bars oor vir sy Springbok-drie Saterdag op Ellispark teen die Wallabies.Foto: Gallo Images

Ek wou amper weer begin huil toe ons die volkslied sing en ek daardie atmosfeer ervaar.

Dit is hoe Cobus Reinach die gevoel beskryf wat hy ervaar het voor 51 200 toeskouers Saterdag op Ellispark in Johannesburg in die rugbytoets teen Australië.

“Dit was iets baie spesiaal vir my,” het dié 29-jarige oud-Bloemfonteiner Saterdagaand gesê nadat hy die eerste keer in ’n paar jaar weer die kans gekry het om die Boktrui aan te trek en in ’n toets te speel.

In die doodsnikke van hul sege van 35-17 het hy in ’n gelaaide atmosfeer die laaste van die Springbokke se vyf drieë gedruk.

Ek het langs Steyntjie (Frans Steyn) gestaan met die sing van die volkslied en vir hom gesê dit voel of ek wil begin huil.
Cobus |Reinach

“Ek het langs Steyntjie (Frans Steyn) gestaan met die sing van die volkslied en vir hom gesê dit voel of ek wil begin huil.

“Dit was so spesiaal. Terwyl ek daar gestaan het, het ek gedink hoe jy moet veg vir die goed wat van jou weggevat word. ’n Paar jaar gelede is my Springbok-loopbaan van my af weggevat en om weer hier te kon staan en deel van Springbokrugby te kon wees, was oorweldigend.

“Om weer hierdie atmosfeer op Ellispark te kon ervaar, het my laat besef hoeveel ek dit die laaste paar jaar gemis het,” het Reinach, wat deesdae vir die Northampton Saints in Engeland speel, gesê.

Hy was die plaasvervanger-skrumskakel en het in die laaste kwartier speelkans gekry toe die nuweling en Speler van die Wedstryd, Herschel Jantjies, die veld verlaat het.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - JULY 20: Herschel Jan
Herschel Jantjies

“Herschel het ’n ongelooflike debuut gehad. Dit is iets baie spesiaals as jy ’n drie in jou eerste toets kan druk, maar om twee soos hy te druk, maak dit ekstra spesiaal. Hy was fenomenaal,” het Reinach gesê.

Dit was ’n uitsonderlike dag vir die Bok-skrumskakels wat drie van die vyf drieë gedruk het en die afrigter, Rassie Erasmus, het ná die toets gesê hy is baie tevrede met die diepte wat daar in dié posisie is.

“Ons weet skrumskakel kan een van ons troefkaarte wees,” het Erasmus gesê.

Steyn, wat ook as plaasvervanger-senter ’n halfuur lank gespeel het, sê hy kan nie eens onthou wanneer laas hy die wonderlike atmosfeer in Ellispark kon ervaar nie.

“Ek het dalk omtrent tien jaar laas hier gespeel, maar dit was spesiaal om weer voor my familie, vrou en vriende hier te kon speel. Om hier te speel gee jou ’n gevoel wat jy nêrens anders kry nie,” sê hy.

Dit was ’n baie emosionele ervaring wat die wedstryd voorafgegaan het.

Daar is hulde gebring aan die oud-Springbok James Small met sy twee kinders, Ruby en Caleb, wat as gelukbringers van die span voor gedraf het toe hulle op die veld verskyn het.

Ruby het haar arms om haar jonger halfbroer geslaan terwyl hulle langs die Springbok-kaptein, Eben Etzebeth, met die sing van die volkslied gestaan het.

Hulde is ook gebring aan die sanger Johnny Clegg wat verlede week oorlede is. Voor die spelers op die veld verskyn het, is sy treffer “Impi” gespeel, terwyl ander treffers van hom ook in die aanloop tot die toets en met die rustyd die atmosfeer help laai het.

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Cobus Reinach  |  Frans Steyn  |  Ellispark  |  Johannesburg  |  All Blacks  |  Toets  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.