Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rennie skaar hom by Kiwi’s oor Kerskwessie
Dave Rennie, die Wallabies se nuwe afrigter. Foto: Getty Images

Australië se rugbybreier, Dave Rennie, het sy gewig agter Nieu-Seeland gegooi oor die skeduleringsdilemma wat dreig om die beplande Rugbykampioenskap te ontspoor.

Hy het egter nie gesê hoe hy dink die onsmaaklike situasie opgelos kan word nie.

Die struikelblok is die Kiwi’s se vereiste dat die viernasies-toernooi, waaraan Suid-Afrika en Argentinië ook veronderstel is om deel te neem, betyds moet eindig sodat die All Blacks terug by die huis kan wees om Kersfees saam met hul families deur te bring.

Die kampioenskap word vanjaar, weens die koronavirus-pandemie, in ’n bioborrel in Australië beslis, met die eerste toets wat op 7 November in Sydney geskeduleer is.

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, het egter Vrydag ’n stok in die wiel gesteek deur aan te kondig dat die laaste toetse in die reeks op 12 Desember beslis sal word.

Dit beteken die All Blacks, wat weens Nieu-Seeland se streng Covid-19-protokolle vir twee weke in kwarantyn moet deurbring ná hul terugkeer na dié land, op 25 Desember iewers in hul hotelkamers sal wees.

Mark Robinson, Nieu-Seeland se rugbybaas. Foto: Getty Images

Nieu-Seeland se rugbybaas, Mark Robinson, het in reaksie hierop gesê die unie is nie te vinde vir die skedule nie, en “sal verskeie ander opsies” oorweeg.

Hy het ook die gasheernasie beskuldig dat hy nie gehou het by sy “verbintenis” dat alle spelers op Kersdag by die huis sal wees nie.

Nieu-Seeland is aanvanklik gevra om gasheer vir die Rugbykampioenskap te wees, maar dis later na Australië verskuif omdat die land meer buigsame kwarantyn-vereistes toepas.

Volgens die aanvanklike ooreenkoms het Nieu-Seeland daartoe ingestem dat die Wallabies vir Kersfees terug na Australië mag reis.

Rennie het Sondag gesê dit sal “skynheilig” van Australië wees “om nie nou vir Nieu-Seeland te ondersteun” wat die Kerskwessie betref nie.

Die Kiwi van geboorte het egter bygevoeg ofskoon die Aussies hul bure se versoek steun, kan ’n verandering in die toetsskedule slegs plaasvind as dit “eenparig” deur al vier betrokke Sanzaar-nasies aanvaar word.

Volgens hom was daar sprake van ’n bioborrel wat Nieu-Suid-Wallis en Nieu-Seeland insluit en as dit “oor Kersfees realiseer, is die kwessie opgelos”.

Die All Blacks sal dan reguit huis toe kan gaan ná die laaste toets en Kersdag saam met hul families kan deurbring. Dis wat ons ook wil hê.
Mike Rennie

“Die All Blacks sal dan reguit huis toe kan gaan ná die laaste toets en Kersdag saam met hul families kan deurbring. Dis wat ons ook wil hê. Dit was ’n taai jaar vir almal, met die inperkingsmaatreëls wat gegeld het.”

Rennie en sy Wallaby-groep van 40, insluitende 16 nuwelinge, het Saterdag in Nieu-Seeland aangeland vir die eerste Bledisloebeker-toets teen die All Blacks op 11 Oktober in Wellington.

Die besoekers sal 14 dae in kwarantyn in hul hotel in Christchurch deurbring, maar sal Dinsdag al kan begin oefen om Rennie kans te gee om sy toetsgroep van 23 te finaliseer.

“Daar is ’n paar posisies waar kandidate my nog kan oortuig van hul insluiting. Ek glo jy kies die ou wat die beste op dreef is in sy posisie, so as jy goed genoeg is, is jy oud genoeg.

“Ek is seker ’n hele paar van die jong outjies gaan met ’n helse aanslag kom om die toetsgroep van 23 te haal,” aldus die breier. – TeamTalk; Sportredaksie

Meer oor:  Mark Robinson  |  Australie  |  Nieu-Seeland  |  Kersfees  |  Afrigter  |  Sanzaar  |  Rugbykampioenskap  |  Kwarantyn  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.