Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rhodes sal dosyn ‘Boere-Poms’ voltooi
Michael Rhodes. Foto: Getty Images

Die Suid-Afrikaner Michael Rhodes gaan nou weliswaar nie Saterdag sy toetsbuiging vir Engeland teen sy geboorteland maak nie, maar sy insluiting by Eddie Jones se oefengroep het die kollig opnuut laat val op Suid-Afrikaners wat al vir die Rose uitgedraf het.

As Rhodes wél later in November sy kans kry om die Engelse trui oor die kop te trek, sal hy die 12de Suid-Afrikaner in die beroepsera wees om vir die Rose uit te draf.

Onder die vorige tien “Boere-Poms”, is daar bekende name soos Mike Catt, Matt Stevens en Brad Barritt, maar ook minder bekende spelers.

Mike Catt in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2007 teen Suid-Afrika in aksie. Foto: Getty Images

Catt was die eerste Suid-Afrikaner om in die beroepsera vir Engeland te speel. Dié senter en losskakel het eintlik voor die beroepsera se aanvang in 1996 al vir Engeland uitgedraf.

Dié gebore Baaienaar het tussen 1994 en 2007 in 75 toetse vir Engeland diens gedoen. Hy het ook een toets vir die Britse en Ierse Leeus op sy kerfstok.

Stevens, ’n stut van Durban, het 44 keer vir Engeland gespeel tussen 2004 en 2012.

Brad Barritt vir die Rose by die Wêreldbeker-toernooi in 2015 in aksie. Foto: Getty Images

Barritt, ook ’n Durbaniet, het homself as ’n yster op senter vir die klubspan Saracens bewys en ook 26 toetse tussen 2013 en 2015 gespeel.

Verskeie mense sal ook bewus wees van sy Saracens-spanmaat, die slot Mouritz Botha, ’n boorling van Vryheid. Hy het in tien toetse tussen 2011 en 2012 gespeel.

Botha is ook nie die enigste boorling van ’n klein Suid-Afrikaanse dorpie wat vir Engeland uitgedraf het nie.

Die bielie-flank Hendré Fourie het tussen 2010 en 2011 in agt toetse vir die Rose gespeel. Hy is in Burgersdorp gebore.

En wie onthou nog vir Geoff Appleford, ’n senter, wat in 2002 in een toets uitgedraf het? Appleford is in Dundee gebore.

Dan is daar ook die heelagter Nick Abendanon, ’n gebore Johannesburger, wat in 2007 in twee toetse vir die Engelse gespeel het.

Michael Horak, deesdae by die Haaie as ’n spelerswerwer betrokke, het in 2002 in een toets vir die Engelse op heelagter gespeel. Horak is in Johannesburg gebore.

In die aanloop tot die Engelse se Wêreldbeker-sukses in 2003, het hulle ook vir verskeie Suid-Afrikaners kans gegee om te wys wat hulle vir hul aangenome land kan uitrig.

Nick Abendanon het in twee toetse vir die Engelse gespeel. Foto: Getty Images

Een van dié spelers was die Kapenaar Stuart Abbott, wat uiteindelik nege toetse op senter gespeel het.

Nog ’n senter van Kaapstad, Fraser Waters, het tussen 2001 en 2004 in drie toetse vir die Engelse gespeel.

Daar was ook Steve White-Cooper, ’n flank, wat in 2001 in twee toetse vir die Rose uitgedraf het. Hy is in Kaapstad gebore.

Indien Rhodes dus sy kans vir die Engelse kry, sal hy die derde Durbaniet in die beroepsera wees om vir Engeland te speel.

Meer oor:  Brad Barritt  |  Michael Rhodes  |  England  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Rose  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.