
Michael Rhodes / Foto: Getty Images
Saracens se Suid-Afrikaanse flank Michael Rhodes se uitwysing vir ’n beweerde kopstamp op die Leinster-senter Robbie Henshaw in die Europese Kampioenebeker-kwarteindstryd in Dublin die afgelope naweek, is van die hand gewys.
Hy is nie Saterdag in die wedstryd gestraf nie nadat dit op die oog af gelyk het asof hy sy kop terugswaai en vir Henshaw stamp. Beth Dickens, die uitwysbeampte, het dié voorval egter raakgesien en besluit dat Rhodes verhoor moet word.
“Rhodes is daarvan beskuldig dat hy vir Robbie Henshaw in die tweede minuut van die wedstryd met sy kop gestamp het, wat ’n oortreding van reël 9.12 is,” sê European Professional Club Rugby, die kompetisie se beheerliggaam, in ’n nuusverklaring.
“Die onafhanklike dissiplinêre komitee het bevind Rhodes het vuilspel gelewer, maar daar is egter nie genoegsame bewyse dat kontak met Henshaw se kop gemaak is nie.
“Die dissiplinêre komitee het tot die gevolgtrekking gekom dat die vuilspel nie ’n rooikaart regverdig nie en die uitwysing is dus laat vaar.”
Saracens het die kragmeting met 25-17 gewen en speel komende Saterdag in die halfeindronde teen die Franse klub Racing 92. Toulouse en die Exeter Chiefs kom in die ander halfeindstryd teen mekaar te staan.
– Reuters