Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rhyno Herbst wil Leeus se Bakkies word

As jy jou rugby skoei op dié van Bakkies Botha, sal jy uiteraard nie iemand wees wat terugdeins vir kontak nie.

Daarom is dit dus nie vreemd om die Leeus-slot Rhyno Herbst te hoor sê hy het so ietwat van ’n nare streek in hom op die speelveld en hou daarvan om teenstanders pyn te laat ervaar nie.

Rhyno Herbst sê die Vrystaatse verdedigers die stryd aan in die afgelope naweek se Curriebeker-stryd op Ellispark. Foto: Gallo Images

Hierdie 22-jarige reus, wie se poniestert weggesteek word onder ’n skrumpet wanneer hy op die veld is, sê hy is as ’n Leeus-ondersteuner gebore.

“Daar was nog nooit enige ander span vir my as die Leeus nie,” sê hy.

Hoe dan nou ook anders met sy oupa, Ouboet Herbst, wat self in sy speeldae slot vir die Rooibontes van Transvaal was.

Rhyno, ’n Roodepoorter van geboorte wat sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp voltooi het, sien die kans wat hy nou kry om Curriebeker-rugby te speel as een om sy vermoë op die veld te adverteer.

Hy was besonder woelig in die afgelope naweek se sege oor die Vrystaat-Cheetahs en het ’n indrukwekkende vertoning gelewer.

“Ek speel graag aggressief en deins nie terug vir wanneer dinge hard en warm daar voor raak nie. Dit is juis dan lekker en ek voel ek is deel van die aksie. Hoe harder die spel, hoe aggressiewer kan ek wees,” sê hy.

Herbst was vroeër vanjaar deel van die Leeus se Superrugby-groep, maar met ’n slot soos Franco Mostert voor hom in die tou het hy nooit enige speelkans gekry nie.

“Ek sou wat wou gee om die ervaring van Superrugby te kon hê, al was dit net vir enkele minute, maar ek het baie wys geword by die slotte wat wel betrokke was.

Bakkies Botha het vir niemand op ’n rugbyveld teruggedeins nie. Hier is hy en die All Black-slot Sam Whitelock in ’n onderonsie betrokke. Foto: Getty Images

“Om nou Curriebeker-rugby te kan speel, is ’n fantastiese ervaring en ek wil hierdie kans gebruik om te wys wat ek kan vermag,” sê hy.

Met die haastige vleuel Madosh Tambwe wie se Curriebeker-seisoen verby is weens ’n gebreekte enkel, is die verwagting dat Sylvian Mahuza sal terugskuif van heelagter na regtervleuel, terwyl die Springbok Andries Coetzee dan weer die nr. 15-trui sal dra in Saterdag se kragmeting met die Westelike Provinsie op Ellispark.

Die vaskopstut Johannes Jonker het herstel van die armbesering wat hom uit die stryd teen die Cheetahs gehou het en kan ook weer oorweeg word wanneer die hoofafrigter, Ivan van Rooyen, Donderdag sy span aankondig.

Meer oor:  Bakkies Botha  |  Leeus  |  Rhyno Herbst  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.