SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Rob: ‘Kokkerot-kommentare skeel ons min’
Robert du Preez, die afrigter van die Haaie. Foto: Gallo Images

Hy het wel nie vir Tony Watson by naam uitgesonder nie, maar die Haaie se afrigter, Robert du Preez, het dit nietemin duidelik gemaak dat geraas van buite die Haaie-kamp, soos Watson se striemende ope brief, die span min skeel.

Watson, ’n voormalige Haaie-vleuel, het Du Preez se afrigtingsvermoë verlede week bevraagteken. Hy het die Haaie-afrigter ook van nepotisme beskuldig.

“Al die kokkerot-kommentare op sosiale media en swak ingeligte joernaliste se menings, het ons geensins van stryk gebring nie,” het Du Preez vandeesweek gesê.

Al die kokkerot-kommentare op sosiale media en swak ingeligte joernaliste se menings, het ons geensins van stryk gebring nie.
Robert du Preez

“Ons is goed op koers. Ons weet waar ons as ’n span kan eindig as ons speel soos wat ons kan speel.”

Ná twee tuisnederlae het Du Preez se Haaie Saterdag in Sydney terug op die wenpad gekom met ’n sege van 23-15 oor die Waratahs.

“Dit was belangrik om die eerste toerwedstryd te wen, veral nadat ons twee tuiswedstryde verloor het.

“Ons was teleurgesteld met van die uitslae wat ons deur die loop van die veldtog behaal het en dit is sleg, want ek weet hoe hard ons gewerk het. Ons weet ons moet meer ligapunte hê.”

Beast Mtawarira ondergaan Donderdag skanderings om die erns van sy kniebesering vas te stel. Foto: Gallo Images

Die Haaie het wel ’n duur prys vir hul sege betaal. Die Springbok-loskopstut Beast Mtawarira, wat die span in Sydney aangevoer het, het ’n linkerkniebesering opgedoen.

Hy het teruggekeer na Suid-Afrika en die erns van die besering sal Donderdag met skanderings in Durban bepaal word.

Die Haaie sal hul taaiste wedstryd van die jaar dus sonder hul meer ervare kryger moet aanpak. Hulle speel Vrydag teen die verdedigende kampioen, die Crusaders, in Christchurch.

“Die Crusaders is boaan die puntelys en ’n puik span, maar ons is gereed vir die uitdaging. Niemand gun ons ’n kans nie en dit is altyd ’n goeie plek om te wees,” sê Du Preez.

“Ons moet vir die hele wedstryd gefokus bly. Dit is die belangrikste ding. Hulle is ’n formidabele span en die laaste 25 minute van ’n wedstryd is hul sterkpunt.”

Die breier sal hoop die 21-jarige losskakel, Curwin Bosch, kan op sy goeie vertoning teen die Waratahs voortbou. Du Preez het Bosch beloon deur hom weer met die nr. 10-trui toe te vertrou, nadat hy die laaste twee seisoene tweede viool agter Robert du Preez jr. moes speel.

Curwin was baie goed teen die Waratahs. Hy het die wedstryd puik bestuur.
Robert du Preez

“Curwin was baie goed teen die Waratahs. Hy het die wedstryd puik bestuur,” sê die breier, wat ook in sy noppies was met die vertoning van een van sy seuns, die steelkantflank Jean-Luc du Preez.

“Jean-Luc het ’n groot wedstryd gespeel. Hy bring baie aggressie en fisiekheid. Hy steek die pak aan die brand.”

Die spanne is:

Haaie: Aphelele Fassi, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Jean-Luc du Preez, Philip van der Walt, Ruan Botha, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Thomas du Toit. PLAASVERVANGERS: Akker van der Merwe, Mzamo Majola, John-Hubert Meyer, Hyron Andrews, Jacques Vermeulen, Cameron Wright, Robert du Preez, Marius Louw.

Crusaders: Will Jordan, Sevu Reece, Braydon Ennor, Jack Goodhue, George Bridge, Mitch Hunt, Bryn Hall, Kieran Read, 7 Matt Todd (k), Jordan Taufua, Scott Barrett, Mitchell Dunshea, Michael Alaalatoa, Codie Taylor, Joe Moody. PLAASVERVANGERS: Ben Funnell, Isi Tu’ungafasi, Oliver Jager, Luke Romano, Ethan Blackadder, Mitchell Drummond, Brett Cameron, Tim Bateman.

 

Meer oor:  Beast Mtawarira  |  Robert Du Preez  |  Durban  |  Christchurch  |  Kritiek  |  Crusaders  |  Superrugby  |  Afrigter  |  Rugby  |  Toer  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.