Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Robbie Blair jr. sê nee vir Vrystaat-pos

Die Vrystaat Rugbyunie sal opnuut sy soektog na ’n hoofbestuurder moet voortsit.

Robbie Blair jr. / Foto: Facebook

Dít kom nadat die gekose kandidaat vir dié pos, Robbie Blair jr. (35), die Vrystaters se aanbod van die hand gewys het.

Hy was glo saam met die huidige waarnemende hoofbestuurder, Selwyn Colby en Willem van Huyssteen op die kortlys ná die laaste ronde van onderhoude in Desember verlede jaar.

Dié pos is vakant gelaat ná die afsterwe van Gerda von Solms in 2013 en is tot op hede nie gevul nie.

Die Vrystaat Rugbyunie sal Maandag, wanneer hulle na die Desember-vakansie weer oop is vir sake, kommentaar oor die saak lewer.

Blair het Vrydag uit Stellenbosch, waar hy woon, gesê die besluit om die aanbod van die Vrystaters van die hand te wys, was ’n finansiële een.

“Ek wil nie te veel sê nie omdat ek en die Vrystaat Rugbyunie nog nie weer gepraat het nie. Hulle is nog toe en ek kan nie sake wat vertroulik bespreek is, bekend maak nie,” sê Blair.

Hy is die laaste ses jaar verbonde aan Premier Interschools/Megapro as hul bedryfshoof, waar hy saam met die oud-Springbok én Australiese agtsteman Tiaan Strauss werk.

“Ek was gereed om Bloemfontein toe te gaan. My vrou het egter steeds ’n heeltydse werk in Stellenbosch, wat sou beteken het dat ek ’n paar keer per maand tussen Bloemfontein en Stellenbosch moes pendel totdat ons in ’n posisie sou wees vir haar om Bloemfontein toe te trek.

Die bykomende reis- en verblyfkoste het dit vir my finansieel onmoontlik gemaak om die pos te aanvaar.
Robbie Blair jr.

“Ek sou ook ’n blyplek in Bloemfontein moes huur waar my vrou en kind ook gemaklik sou kon wees. Die bykomende reis- en verblyfkoste het dit vir my finansieel onmoontlik gemaak om die pos te aanvaar,” sê hy.

* Intussen het die afrigter van die Cheetahs, Franco Smith, Vrydag gesê gerugte dat die span se skrumdokter Daan Human op pad is na die Bulle, bloot bespiegeling is.

Volgens Smith bly Human deel van die afrigtingspan en is hy gefokus op die Pro14-reeks.

“Daan speel ’n belangrike rol in die afrigtingspan en dit bly volgens my so (dat hy by ons aanbly). Dit is in die middel van die seisoen (Pro14) en geen besluite is hoegenaamd geneem nie,” sê Smith.

Na wat verneem word, verstryk Human se kontrak met die Vrystaat Rugbyunie later vanjaar. Hyself het alle navrae na Smith gerig.

* Die Cheetahs het ook vandeesweek die fiksheidskundige Simon Coulter van Ierland by die span verwelkom.

Hy sal vir die volgende twee maande by die Cheetahs kers opsteek om te sien hoe hulle voorberei vir onder meer die toestande in Europa, waar hulle aan die Pro14-reeks deelneem.

“Dit is ’n pluimpie vir die Cheetahs dat Coulter ons uitgesoek het om te kom leer,” sê Smith.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.