Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Robbie pak sy tasse vir Texas se klubspan
Robbie Coetzee vier die Leeus se Curriebeker-triomf in 2015.

’n Vierde Suid-Afrikaanse haker, Robbie Coetzee, is op pad na die VSA om sy rugby daar te speel.

Die Leeu-staatmaker het ’n kontrak gesluit met die klubspan Austin Gilgronis in Texas, waar hy beplan om hom en sy gesin vir die volgende vyf jaar te vestig.

Hy sal in die Amerikaanse Majorliga skrum teen sy voormalige Leeu-spanmaat Pieter Jansen, wat deur die New England Free Jacks gewerf is.

Dean Muir, voormalige haker van die Westelike Provinsie, speel vir die San Diego Legion en die gewese haker van die South­ern Kings, Stephan Coetzee, vir die Seattle Seawolves.

Die 31-jarige Coetzee het in Mei 2019 sy laaste wedstryd vir die Leeus teen die Crusaders in Nieu-Seeland gespeel.

Dié oudleerling van die Hoërskool Eldoraigne was van 2013 af ’n Leeu. Hy het hulle in meer as 100 wedstryde in die Superreeks, Curriebekerreeks en Vodacombekerreeks verteenwoordig.

In 2014 is hy gekies om die Bokke in Europa te verteenwoordig, maar moes hom weens ’n nekbesering onttrek.

“Ek het Austin Gilgronis in Texas gekies omdat dit ’n wonderlike plek is. Dit is glo ’n plek vir families. Die weer en kultuur is ook soos hier,” sê Coetzee.

“Daar is ook reeds baie Suid-Afrikaners. Dit was ’n groot trekpleister.”

Coetzee se belangstelling in Amerikaanse rugby het gegroei nadat die voormalige Bok-voorryman Beast Mtawarira sy rugby ná verlede jaar se Wêreldbekertoernooi daar gespeel het. Hy het ook die veelsydige agterspeler Joe Pietersen se Amerikaanse draai met belangstelling gevolg.

“My doelwit bly steeds om my beste op die veld te gee. Ons is ’n klomp nuwe ouens wat by die Austin Gilgronis bymekaarkom.

“Ek hoop ons kan dieselfde daar doen as by die Leeus deur in ’n klomp eindstryde te speel. ’n Ou weet nooit hoe dit uitwerk en waar ’n mens oor ’n paar jaar gaan eindig nie.”

My lyf voel weer soos op 2014 se Bok-toer.

Al was dit vir hom moeilik om sedert Mei 2019 geen rugby te speel nie, het dit sy lyf kans gegee om te herstel. “My fokus in die moeilike tyd was om my lyf weer reg te kry. Ons baba is einde Mei gebore. Dit was wonderlik om die eerste jaar die hele tyd by hom te wees. My vrou, Camilia, en kind, Connor, het my baie positief gehou.”

Die voormalige fiksheidman van die Cheetahs, Niel du Plessis, het Coetzee by die Sport Science Lab (SSL) in Pretoria onder hande geneem om sy kondisionering en selfvertroue te verbeter. “My lyf voel weer soos op 2014 se Bok-toer.”

Die Coetzee-gesin beplan om vanjaar al te verhuis. Hoewel hy eers Februarie vir voorseisoense oefeninge moet aanmeld en ligawedstryde eers in Maart begin, wil die Coetzee’s behoorlik gaan nesskop.

Die San Diego Legion het onlangs aangekondig dat hulle die Bok-vleuel Bjorn Basson gekontrakteer het. Die Blitsbok-ster Cecil Afrika sal daar een van sy spanmaats wees.

Meer oor:  Robbie Coetzee  |  Rugby  |  Kontrak  |  Haker  |  Texas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.