Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Robert du Preez: ‘My pa-hart loop oor’

Dit was vir Robert du Preez lekkerder toe hy en sy vrou, Sonja, se drie seuns, Jean-Luc, Dan en Robert, almal Springbokke geword het, as toe hyself op 15 Augustus 1992 op die rype ouderdom van 29 jaar op Ellispark teen die All Blacks in sy eerste van sewe toetse gespeel het.

Robert du Preez, afrigter van die Haaie.Foto: getty images

“ ’n Ou wil mos maar altyd die beste vir jou kinders hê,” sê Du Preez.

“Ons is ongelooflik trots op die seuns. Dis ’n wonderlike gevoel, hoewel ons nederig daaroor bly.

“Dit was in die geheel ’n wonderlike jaar vir die Haaie, wat ook die Curriebeker verower het. Robert (jr.) het ongelooflik hard gewerk om vanjaar Bok te word, al het hy net vir ’n paar minute teen Wallis gespeel.”

Du Preez het altyd geweet hul seuns het die talent en die vaardighede om vir die Springbokke te speel.

“Maar hulle sou self daarvoor moes werk. En van kleintyd af wou hulle Bokke word. Ek is bly dit het só uitgewerk dat ek en hulle vir die Bokke kon speel.

Dis jou onderwysers op laerskoolvlak wat jou eindelik eendag laat Bok word.

“Ons het nooit vooraf bymekaar gesit en gesê dit sou wonderlik wees as ons almal Bokke word nie. Ek dink elkeen het op sy eie gehoop en geglo dit sou gebeur.

“Ons het dit egter nooit as ’n gesin as ’n doelwit gestel dat ons vier Bokke in die gesin wou hê nie. Dít sou groot druk op hulle plaas. Elkeen het eerder sy eie doelwit gehad. Iets waaroor hulle wel praat, is dat hulle eendag saam in dieselfde toets vir die Bokke wil speel.”

Du Preez het doelbewus nooit druk op sy seuns geplaas nie aangesien hy gesien het watter nadelige invloed dit op kinders het.

“Ek is baie bewus van die feit dat ouers nie kinders te hard moet druk nie. Dit het ek al baie in my sportloopbaan gesien. Ek het van vroeg af vir hulle gesê dit gaan als oor harde werk en deursettingsvermoë. In sport beleef jy soveel terugslae. Talent is belangrik, maar harde werk en deursettingsvermoë is belangriker.

Du Preez saam met sy drie seuns: Jean-Luc, Robert jr. en Dan. Foto: steve haag, gallo

“As hulle dit sonder die druk van ouers en vriende doen, werk dit mos maar gewoonlik uit. Hulle het van laerskooldae af goeie afrigting gehad. Dis so belangrik.

“Selfs in my geval het ek in my laerskooldae ongelooflik goeie afrigting by die Laerskool Baillie Park in Potchefstroom gekry. Dis waar die grondslag gelê word. Dis jou onderwysers op laerskoolvlak wat jou eindelik eendag laat Bok word.

“Ek het ’n wonderlike skoolhoof in Frik Kirsten, Jannes Kirsten van die Bulle se oupa, gehad. Later het James Stoffberg ook ’n reuse-rol gespeel. Hy was net so fantasties.”

Die Du Preez-gesin, die eerste pa en drie seuns wat vir die Bokke speel, het die Natallers vanjaar ’n bykomende rede gegee om hul Kersvakansie te geniet. Hulle het ’n reuse-bydrae in die Haaie se verowering van die Curriebeker teen die Westelike Provinsie gelewer – ’n uitsonderlike eer vir ’n pa as afrigter en sy drie seuns.

4: Die Du Preez-broers is die vierde stel broers van drie wat vir die Bokke speel. Die ander is John, Dick en Lammetjie Luyt; Jaap, Dolf en Martiens Bekker; en Willie, Michael en Carel du Plessis.

“Die verowering van die Curriebeker was baie spesiaal. Ons het weer eens nie vooraf gepraat oor hoe spesiaal dit sou wees as ons as gesin die Curriebeker sou wen nie. Dit het oor die span gegaan. Die Curriebeker-eindstryd op sigself is reeds spesiaal genoeg.

“Ons (die Haaie) het die Curriebeker laas in 2013 gewen. Ons was verlede jaar in die eindstryd, maar het nie gewen nie. Om in ’n Curriebeker-eindstryd te speel is steeds ’n groot voorreg vir enige speler. Die ouens sê die Currie­beker is ’n afgewaterde affêre, maar dit is nie.

“Die Curriebeker is nog net so betekenisvol in Suid-Afrika as wat dit nog altyd was. Daar was van die halfeindstryde af groot belangstelling in die reeks. En die spanne het goeie rugby gespeel. Daar was ’n klomp Bokke in ál die uitspeelstryde betrokke. Dis ’n yslike eer om in die eindstryd te speel en om dit te wen.”

Oor die verhouding tussen afrigter/pa en spelers/seuns is Robert nie vaag in sy antwoord nie. “Ek gee nie as afrigter my seuns voorkeurbehandeling nie. Hulle is gelukkig uiters professioneel. Ons kan dit nie anders doen nie. Daar is en sal altyd baie druk op my en die seuns wees. Vir my gaan dit eenvoudig oor meriete. Ek hanteer hulle soos enige ander speler in die span.”

3: Robert du Preez is die eerste voormalige Bok wie se drie seuns, Robert, Jean-Luc en Dan, almal toetsrugby speel.

Du Preez skryf sy span se Curriebeker-sukses toe aan die spelers wat almal op dieselfde golflengte was.

“Dít kos tyd.

“Die spangees in die Currie­beker-reeks was ongelooflik goed. Die leiers het ’n groot rol gespeel, net soveel as ons as afrigters. Dit was hulle wat Donderdae oorgeneem het.

“Ek het geweet ons moes goed speel in die halfeind om teen die Leeus te kon wen.

“Teen Griekwas het ons ons vorm herwin, wat vir my belangrik was. En ons beste wedstryd was die eindstryd.

“Ons voorspelers het in die eindstryd die grondslag vir ons oorwinning gelê. Ek het altyd geweet ons het die agttal om die WP in die eindstryd te boelie. En hulle het.

“Die ouens het vir mekaar gespeel. As ’n afrigter kan jy nie vir meer as dit vra nie.”

Oor 2019 se Super-seisoen is hy net so opgewonde as oor die jaar wat verby is.

“Ons het bestendigheid in ons groep, wat ’n groot ding is. Die mededinging vir plekke in ons Superspan gaan baie straf wees.

“Om werklik te presteer, sal ons ouens moet roteer. Vir rotasie moet jy ’n goeie groep spelers hê, wat ek glo ons het.

“Ons het die groep spelers om tussen die vier voorste spanne in Superrugby te eindig. Dis vir my ’n mikpunt. Daarna is enigiets moontlik.”

Du Preez is nog vir twee jaar deur die Haaie gekontrakteer. Daarna sal hy oorsese opsies oorweeg.

Meer oor:  Springbokke  |  Robert Du Preez  |  Jean-Luc Du Preez  |  Dan Du Preez  |  Rugby  |  Seuns  |  Debuut
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.