Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se Robert du Preez wys sy pa ’n ding

"Ons was desperaat om dié een te wen en ’n tuishalfeind vir die mense in die Kaap te verseker.”

Só het Chris van Zyl, die WP se kaptein, gereageer ná sy span se sege met 31-20 oor die Haaie Saterdagmiddag in Durban.

Sbu Nkosi, die Haaie se linkervleuel, probeer ’n hoë bal bemeester in sy span se Curriebeker-stryd teen die Westelike Provinsie. Sy spanmaat, die vleuel Kobus van Wyk, probeer help. Die WP se vleuel Seabelo Senatla staan regs, terwyl die WP-flank Jaco Coetzee onder Nkosi deur duik. Foto: Gallo Images

Hulle moes in die tweede helfte ’n ommeswaai in hul vertoning maak om dié wedstryd op Nuweland in die sakkie te kry, maar met die hope balbesit moes hulle dalk baie geriefliker gewen het.

Vir die Haaie was daar weinig meer as trots op die spel en die manier waarop hulle op Kingspark gespeel het, het dalk gewys dat hul koppe reeds in die halfeindronde van die Curriebeker-kompetisie staan.

Tóg het die tuisspan in die eerste helfte die besoekers gefrustreer om met 13-3 teen rustyd voor te loop nadat die losskakel, Curwin Bosch, op die rustyd-sirene met ’n monster-skepdoelpoging geslaag het.

Die WP het wel 58% van die balbesit in die eerste helfte gehad en het vir groot dele daarvan kamp opgeslaan in die Haaie se halfgebied. Maar punte kon hulle nie aanteken nie.

Daarvoor moet die krediet aan die Durbaniete se goeie verdediging gaan, terwyl die WP hulself ook sal skop omdat hulle by meer as een geleentheid goeie balbesit doodeenvoudig voor hul teenstanders se doellyn verspeel het. Selfs die skeidsregter, Jaco Peyper, se beslissings het die besoekers laat in die eerste helfte moedeloos gehad. “Ons was regtig onder druk in die wedstryd, maar is verheug oor die sege,” het Van Zyl ná die wedstryd gesê.

“Ons was effe ongelukkig om nie ’n paar drieë in die eerste helfte te druk nie. Die geloof was daar. Maar ons was desperaat om die sege te verseker.”

Curwin Bosch

Die Haaie het ná 12 minute se speeltyd in die eerste helfte met 10-0 voorgeloop danksy ’n drie deur sy senter Marius Louw, wat deur ’n flouerige duikslag van Robert du Preez en Huw Jones gebars het.

Du Preez, seun en naamgenoot van die Haai-breier Robert du Preez, het in die eerste helfte flouerig gespeel, maar het in die tweede helfte daarvoor vergoed toe hy die Haaie op die aanval en met sy taktiese skopwerk onder druk geplaas het. Hy is welverdiend met twee drieë in die tweede helfte beloon.

Ruan Botha, kaptein van die Haaie, het gesê die Streeptruie was beter en het die sege verdien.

Dit was die eerste keer sedert die eerste ronde van die kompetisie dat die Haaie verloor het.

“Dit maak nie saak wie volgende week ons teenstanders is nie, dit is ’n talentvolle groepie spelers en jongeling met ’n ingesteldheid om te wen, so ons sien uit na die uitdaging.”

Meer oor:  Haaie  |  Wp  |  Robert Du Preez  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.