Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Roeier nou kranig met rugbybal

Skaars agt maande nadat Catha Jacobs haar eerste treë as rugbyspeler gegee het, tree dié kranige roeier volgende week vir die Suid-Afrikaanse vroue-sewesrugbyspan by die Kaapstad-sewestoernooi aan.

Die 21-jarige Jacobs erken die senuwees knaag maar om in ’n volgepakte Kaapstad-stadion in haar eerste toernooi in Wêreldrugby se sewesreeks te speel.

Catha Jacobs. Foto: Gallo Images

Maar dié nooi is nie bang nie. Sy was immers een van tien finaliste wat uit 15 000 inskrywings gekies is vir die werklikheidsreeks The Odyssey. Die avonturier Riaan Manser het na iemand gesoek om die 5 500 km tussen die Kanarie-eilande en Barbados te roei.

“Toe ek ingeskryf het, het ek nie presies geweet wat dit behels nie. Ek het wel later gesien dit is rof. Ons het teorie in die oggend gedoen en is dan in die middae aan uitdagings onderwerp,” sê Jacobs.

“Ek het dit baie geniet en het deelgeneem omdat ek daarvan hou om myself uit te daag. Ook om te wys dat vroue goed kan presteer.”

Siende dat sy van ’n uitdaging hou, is dit dan ook geen verrassing nie dat sy ingestem het om in ’n seweswedstryd te speel. Min wetende dat dit ’n nuwe hoofstuk in haar lewe sou inlei.

“Ek was ’n roeier en by die koshuis (by die Universiteit van Johannesburg) het hulle in Maart gevra of ek nie wil uithelp vir ’n sewestoernooi nie.

“Wel, ek het gedink ek het drie boeties en het al raakrugby met hulle in die tuin gespeel, so ek sal dit kan doen,” sê Jacobs.

Praat van aan die diep kant ingegooi word! Die eerste wedstryd was teen die nasionale vrouespan. Sy het Paul Delport, afrigter van die Imbokodo – soos wat die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan bekend staan – so beïndruk dat hy haar ná die wedstryd genooi het om deel van sy groep te word.

Maar dit was nie maanskyn en rose nie, want waar roeiers probleme het met blase aan die hande, kan rugby ’n ontnugtering wees as jy dit nie van jongs af gespeel het nie.

“Ek het aanvanklik ’n bietjie gesukkel met die kontak, maar het dit darem vinnig gewoond geraak. Sewes het darem ook nie soveel kontak soos vyftiens nie, omdat daar baie meer ruimte is,” sê Jacobs, wat byvoeg dat die lewe van ’n nasionale rugbyspeler gekenmerk word deur hoogte- en laagtepunte.

Haar korttermyndroom was om die spantoernooi vir Kaapstad te haal, maar sy het nog ideale. Soos om vir die Springbokke vyftien-vrouerugby te speel en selfs weer in die toekoms ernstig te roei.

Maar eers is daar die Kaapstad-toernooi.

“Ek weet nie regtig wat om te verwag nie. Dalk sal die realiteit my eerste volgende week tref as ek daar is,” sê Jacobs.


Meer oor:  Sewesrugby  |  Sewes  |  Kaapstad-Sewestoernooi  |  Vrouesport  |  Imbokodo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.