Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallis se Rooi Drake wen Sesnasies-reeks

Frankryk se kleitrappery teen Skotland in die laaste wedstryd van vanjaar se Sesnasies-reeks het beteken dat Wallis as 2021 se kampioen gekroon is.

Duhan van der Merwe het in die doodsnikke van die wedstryd ’n sege vir Skotland verseker met ’n drie. Foto: Getty Images

Die Skotte het die Hane Vrydagaand met 27-23 in Parys geklop – hul eerste sege in die Franse hoofstad sedert 1999.

Frankryk was vooraf as die gunsteling beskou nie net om Skotland te klop nie, maar ook om met die Sesnasies-kroon weg te stap. Die opdrag was duidelik: Wen die Skotte met minstens 21 punte en druk vier drieë.

Dan sou die Franse en Rooi Drake saam boaan die puntelys gewees het, maar eersgenoemde sou gewen het, omdat hulle ’n beter punteverskil het.

Maar glorie was die Hane nie beskore nie, met Duhan van der Merwe wat in die 85ste minuut oorgeduik het om ’n sege vir die besoekers te verseker.

Verslae spelers van Frankryk se nasionale span nadat die eindfluitjie geblaas het. Foto: Getty Images

Wayne Pivac, afrigter van die Rooi Drake, was duidelik in sy noppies met die Sesnasies-trofee wat weer staanplek in Cardiff gekry het. Pivac het onder kritiek deurgeloop sedert hy die leisels ná die Wêreldbeker-toernooi by Warren Gatland oorgeneem het.

“Uit ’n Walliese oogpunt is ek baie bly dat ons die kampioenskap kon wen. Dit is ’n jammerte dat ons dit nie verlede week as ’n groep kon vermag nie,” sê Pivac, in ’n plasing op die Walliese Rugbyunie se webtuiste.

“Ons wil nie te veel oor verlede week praat nie, maar ons voel dat ons genoeg in daardie wedstryd gedoen het om te wen (Wallis het met 30-32 teen Frankryk verloor). Dit vat egter niks weg van die harde werk wat ons ingesit het nie.

“Ons het boaan die puntelys geëindig en die kampioenskap gewen. Dit was ’n ongelooflike wedstryd (tussen Skotland en Frankryk), en het my herinner aan verlede week s’n met die kaarte, strafskoppe en geleenthede wat verbrou is,” sê hy.

Nog ’n trotse afrigter is Skotland se Gregor Townsend. Hoewel sy span vierde op die puntelys klaargemaak het, het die Skotte drie seges behaal, iets wat nie te versmaai is nie.

“Ek is so trots op die span. Hulle (die spelers) het durf, deursettingsvermoë en die wil om te wen gewys,” sê Townsend.

“Dit het die gordyn laat sak op wat regtig ’n belowende seisoen vir ons was.” – Reuters, Sportredaksie


Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Skotland  |  Sesnasies-Reeks  |  Wallis  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.