Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rooikaarte kelder Stormers in Kaap

Jy sou ná 12 minute gesukkel het om te onthou wanneer die Stormers laas sulke mooi rugby gespeel het, maar uiteindelik ook wanneer hulle hulself só in die voet geskiet het soos teen die Haaie in die Kaapstad-stadion Saterdag.

Evan Roos (links) en Ruhan Nel koponderstebo ná die Stormers bitter naby daaraan gekom het om die Haaie met 13 man te klop.Foto: Gallo Images

Die Kapenaars was ná 12 minute gemaklik met 17-0 voor, maar kon ondanks ’n manmoedige poging uiteindelik nie swem teen die gety wat Seabelo Senatla en Willie Engelbrecht se rooikaarte teweeggebring het nie. Die Haaie het net-net met 33-30 gewen.

Die geleentheid was in die doodsnikke daar vir Ruhan Nel om ’n wendrie vir die Stormers af te rond, maar hy het die los bal in die doelgebied aangeslaan.

Maar die man wat eintlik behoort te bloos is Senatla. Die Stormers was in die wolke ná Herschel Jantjies en Rikus Pretorius se drieë, maar toe gaan staan hul blits en speel vir Aphelele Fassi in die lug.

Asof dit nie genoeg was nie, het Engelbrecht twee minute later ’n geelkaart gekry vir ’n gevaarlike duikslag. Die Haaie het onmiddellik die voordeel uitgebuit, met Thomas du Toit wat afgerond het van ’n lynstaanbeweging.

Die Stormers het aanhou baklei en met berekende rugby in die geveg gebly. Hulle het daarin geslaag om die tempo van die wedstryd stadig te hou, die bal met elke geleentheid gedryf en vir Kade Wolhuter geleenthede geskep om die bal deur die pale te skop.

Gevolglik was die Stormers met rustyd met 23-12 voor – 'n telling wat nog die platform vir 'n wen kon wees.

Die Haaie het egter die tempo in die tweede helfte gelig en Reniel Hugo het vroeg van ’n tikskoppie afgerond om hulle binne trefafstand te kry.

Nou was die Stormers teen die toue en met Engelbrecht se tweede geelkaart het hulle gesteier.

Die een geluk vir hulle was dat rooikaarte nie in hierdie kompetisie 'n permanente straf vir 'n span is nie, met 'n oortreder wat na 20 minute vervang mag word. Was dit nie vir daardie reëlverandering nie, was die Stormers se middag waarskynlik selfs moeiliker.

Die Haaie het aantreklike rugby begin speel en Hugo sal sy kleinkinders eendag kan vertel hoe hy as ’n hemelbesem binne ses minute ’n driekuns aan drieë teen die Stormers aangeteken het.

Hoe dikwels kan ’n hemelbesem spog met ’n driekuns aan drieë soos Reniel Hugo Saterdag?Foto: Gallo Images

Ná sy derde, wat met ’n bietjie minder as ’n halfuur oor afgerond was, kon dit lelik geraak het vir die tuisspan.

Die Haaie het egter in hul doppe gekruip – waarskynlik omdat hulle gemeen het hulle sou die voordeel van daar af moeilik prysgee. Hulle het egter baie naby daaraan gekom om juis dit te doen.

Die Stormers het enduit in die geveg gebly en Damian Willemse het ’n dwarsskop van Abner van Reenen afgerond, wat vir ’n interessant sielkundige dinamika in die laaste vyf minute gesorg het.

Die tuisspan was op die voorvoet, maar die spring van die bal het Nel geflous en hulle ontneem van wat ’n uitstekende sege met die rug teen die muur sou gewees het.

• Puntemakers:

Haaie 33 (12): Drieë: Thomas du Toit, Fez Mbatha, Reniel Hugo (3). Doelskoppe: Curwin Bosch (4).

Stormers 30 (23): Drieë: Herschel Jantjies, Rikus Pretorius, Damian Willemse. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2), Abner van Reenen. Strafdoele: Wolhuter (3).

Meer oor:  Haaie  |  Seabelo Senatla  |  Stormers  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.