Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rooikaartreël grief Haaie-breier nie

Die proefreël wat spanne toelaat om spelers wat rooikaarte gekry het ná 20 minute te vervang, was ná Suid-Afrika se eerste Reënboogbeker-wedstryd tussen die Stormers en Haaie in die Kaapstad-stadion Saterdag reeds ’n gesprekspunt.

Die Haaie-hemelbesem Reniel Hugo het die Stormers planke toe gestuur met sy driekuns aan drieë in Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Dít nadat die Stormers vir Seabelo Senatla en Willie Engelbrecht kon vervang en bitter naby daaraan gekom het om die wedstryd in die doodsnikke te wen. Was dit die geval, sou die Haaie met goeie rede gegrief gewees het. Hulle was uiteindelik net-net met 33-30 baas.

Terwyl Engelbrecht dalk ’n bietjie ongelukkig was met sy twee geelkaarte, is daar nie vir Senatla ’n verskoning vir die voorval waar hy vir Aphelele Fassi in die lug gespeel het nie. Fassi het op sy nek geland en kon maklik ernstig beseer gewees het.

Sean Everitt, die Haaie se afrigter, het egter vir Senatla geskerm en ook nie die nuwe reël gekritiseer nie.

“Ek dink nie daardie spelers het hulle doelbewus aan vuilspel skuldig gemaak nie. Seabelo was waarskynlik roekeloos en sal daaruit leer. Ons weet dat hy ’n goeie rugbyspeler is. Hy’s nie ’n gemene mens nie,” sê Everitt.

Siya Kolisi (links) wens vir Fez Mbatha geluk met sy drie teen die Stormers. Foto: Gallo Images

“Dit bekommer my wel wanneer ek ’n paar slegte gevalle sien waar spelers in die lug gespeel word. Fassi is gelukkig dat hy nie vandag beseer is nie.

“Maar aan die einde van die dag is die reël daar en ek dink dis ’n goeie ding dat ’n span ná 20 minute ná ’n rooikaart kan aanpas en die wedstryd met 15 spelers kan afsluit.”

John Dobson, sy eweknie van die Stormers, het die punt gemaak dat nie alle rooikaarte dieselfde is nie.

“Dit kon morsiger gewees het as Seabelo nie vervang kon word nie,” sê hy.

“Oor die regverdigheid kan ek nie kommentaar lewer nie. Dis die moeite werd om daaroor na te dink, want jy kry twee soorte. Willie se arm het na bo gegly en die geelkaarte is regverdig, want dis die reël.

Kolisi en die Stormers-senter Ruhan Nel omhels mekaar ná hul wedstryd in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

“Dis egter anders as ’n speler iemand slaan, of ’n geval soos Seabelo s’n, waar ’n speler in die lug uitgehaal word. Dis moeilik om dit in dieselfde lig te beskou.”

Hoe dit ook al sy, die Haaie het grootliks danksy die Stormers se swak dissipline darem gewen.

Everitt was egter nie in sy noppies met die vertoning nie.

“Ons is ontevrede met die gehalte van ons spel, maar ek dink dis ’n teken van ’n goeie span wanneer hy ná ’n swak vertoning steeds wen,” sê hy.

“Die ouens het teen die einde baie goed gevaar om te keer dat die Stormers van dryfmaalbewegings drieë aanteken.

“Daar’s egter baie om aan te werk. Ons beoordeel onsself op die gehalte van ons spel en dis nie hoe ons graag wou speel nie.”

Vir Reniel Hugo, die onbesonge slot wat ’n driekuns aan drieë aangeteken het, het Everitt groot lof gehad.

“Dit was ’n groot keerpunt. Hy was gelukkig met die een waar die bal van ’n Stormers-speler af gekom het, maar ek dink hy het oral oor die veld ’n baie goeie skof ingesit. Sy werkverrigting was ongelooflik hoog en dis waarom ons hom na die Haaie toe gebring het.”

Puntemakers:

Haaie 33 (12): Drieë: Thomas du Toit, Fez Mbatha, Reniel Hugo (3). Doelskoppe: Curwin Bosch (4).

Stormers 30 (23): Drieë: Herschel Jantjies, Rikus Pretorius, Damian Willemse. Doelskoppe: Kade Wolhuter (2), Abner van Reenen. Strafdoele: Wolhuter (3).

Meer oor:  Haaie  |  John Dobson  |  Sean Everitt  |  Stormers  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.