Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rory tevrede met Cheetahs ná wegholsege

Dit was presies die begin wat die Vrystaat-Cheetahs se nuwe afrigter, Rory Duncan, gesoek het in sy eerste wedstryd aan die stuur van sake.

Die Vrystaters het die Haaie Vrydagaand in Bloemfontein oortuigend met 47-12 verniel. Dit was albei spanne se eerste Curriebeker-wedstryd vanjaar.

Rosko Specman was een van die Cheetahs se uitblinkers teen die Haaie. Foto: Gallo Images

Die Cheetahs was rustyd slegs met 12-7 voor, maar in die laaste kwart van die tweede helfte het die damwal gebars vir die tuisspan se wegholsege.

Die wedstryd het nou wel stadig begin, maar in die laaste twintig minute het die Vrystaat amok gemaak en nie minder as vier drieë gedruk nie.

Duncan sê sy span kon egter nog meer punte aangeteken het.

“Dit was die eerste wedstryd van die reeks en ons kan hierop voortbou. Ons gaan die positiewe uit die wedstryd neem en dit aanspreek. Ek moet egter sê dat ons gelukkig is met waar ons is,” sê Duncan.

Waaraan gewerk moet word, sê die breier, is hoe sy span uit hul eie helfte ontsnap, asook wanneer en op watter wyse dit moet gebeur.

“Dit is waaraan gewerk moet word, maar dit is deel van ’n proses. Ons sal met die spelers daaraan werk en ek is seker ons sal dit regkry oor die volgende paar wedstryde.

“Ons het teen die Haaie goeie aanvalsgeleenthede geskep, en as ons dit kan afrond, kan ons ’n gevaarlike span wees.”

Van daardie geleenthede is juis deur een van die nuwelinge in die span, die Blitsbok Rosko Specman, geskep.

Indien hy teen die Haaie die bal op die regte tye gekry het, sou die telbord heel anders gelyk het.

“Rosko is deel van ’n volwasse agterlyn met goeie ervaring. Ons het laat op ’n Vrydagaand gespeel en die bal was ’n bietjie nat. Dit sou lekker gewees het om byvoorbeeld op ’n Saterdagmiddag in droë toestande te speel. Dit gesê, glo ek Rosko kan ’n gevaarlike speler wees, veral met die spelers aan sy binnekant,” sê Duncan.

Specman het op regtervleuel in die plek van die beseerde Sergeal Petersen (kuit) uitgedraf, en sodra laasgenoemde weer slaggereed is, kan dit beteken dat daar behoorlik gespook gaan word om plek in die beginspan van die Curriebeker-kampioene.

“Mededinging in enige omgewing is goed, en as die Vrystaat hom op ’n plek bevind waarin spelers om posisies meeding, is ons op pad in die regte rigting.”

Nog ’n speler wat teen die Haaie sy kant gebring het, is die stut Ox Nche, wat op vaskop geskrum het. Hy speel gewoonlik loskop, en volgens Duncan kan daar in die toekoms dalk meer van die bielie op vaskop gesien word.

Mededinging in enige omgewing is goed.

“Sy gunstelingposisie is waarskynlik loskop, maar as jy gaan kyk na die wedstryd wat Charles Marais (loskopstut) gespeel het, het hy die bal baie goed gedra en die bal op die regte tye uitgegee. Om die kombinasie van hom en Ox dieselfde tyd op die veld te hê, maak my as afrigter opgewonde en ons kan Ox moontlik in die toekoms op vaskop sien.”

Die Vrystaat se skrumwerk het ook verbeter, met Nche en Marias tesame met die groentjie Reinach Venter (haker). Die drie kan in die toekoms goud werd wees vir die Cheetahs.

Die Vrystaat se tweede wedstryd is volgende Sondagmiddag om 14:30 in Bloemfontein teen die Westelike Provinsie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.