Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rosko sal gou sy voete vind in Vrystaat-trui

Hy was Vrydagaand in Bloemfontein een van die Vrystaat-Cheetahs se dodelikste aanvalswapens in hul Curriebeker-wedstryd teen die Haaie en dit was maar nog net die begin.

Rosko Specman, blitsige vleuel van die Vrystaat-Cheetahs, probeer hier een van die Haaie se verdedigers afskud.Foto: Gallo Images

Die vleuel Rosko Specman het in sy buiging vir die Vrystaters gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word. Hy het met tye met sy Specmagic vorendag gekom en met daardie kenmerkende dartellopies van hom die Haaie se verdediging aan die raai gehad.

Dié sewesspesialis het Vrydag in die Vrystaat se sege met 47-12 oor die uitgedunde Haaie vir die eerste keer sedert 2015 (vir die Pumas) weer in die 15-man-kode uitgedraf.

“In jou eerste wedstryd vir ’n nuwe span voel jy maar senuagtig, want jy wil nie foute maak nie. Dit kon gesien word met daai tikskoppie wat ek geneem het in ons kwartgebied en die bal teen Shaun (Venter) se kop aangegee het.

“Ek voel ek het ’n stillerige wedstryd beleef, maar ek sal gou my voete in die span vind,” sê Specman.

Hy sê hy sal ook gewoond moet raak aan die manier waarop die Vrystaters verdedig aangesien dit anders is waaraan hy gewoond is.

“Ek moet egter sê ek voel ek en Clayton (Blommetjies, heelagter) en Raymond (Rhule, linkervleuel) kombineer goed en dit is iets waarop ek wil voortbou. My doelwit is egter om net my beste te doen en ’n bydrae tot die span se vertonings te maak,” sê Specman.

Dit was egter nie die eerste keer dat Specman sy staal in ’n Vrystaat-trui getoon het nie. Hy was vroeër deel van die Cheetahs se groep wat aan die tiene-toernooi in Mauritius deelgeneem het. Hy kon moontlik nog selfs vir die Cheetahs in die Superreeks ingespan gewees het, was dit nie vir ’n ribbesering wat hy in Mauritius opgedoen het nie.

Specman het in die plek van die beseerde Sergeal Petersen (kuit) uitgedraf. Sodra laasgenoemde weer slaggereed is, kan dit beteken dat daar behoorlik gespook gaan word om ’n plek in die beginspan van die Curriebeker-kampioen.

Die Vrystaat kry vandeesweek nog versterkings agterlangs met nóg ’n vleuel, Makazole Mapimpi, en ’n heelagter, Malcolm Jaer, wat hulle vanaf die Southern Kings in die Rosestad vir die Curriebeker-reeks aanmeld.

Rory Duncan, afrigter van die Vrystaters, was baie beïndruk met Specman se bydrae en hy glo hy kan vorentoe nog een van die waardevolle spelers in sy groep word.

“Rosko is deel van ’n volwasse agterlyn met goeie ervaring. Ons het laat op ’n Vrydagaand gespeel en die bal was ’n bietjie nat. Dit sou lekker gewees het om byvoorbeeld op ’n Saterdagmiddag in droë toestande te speel.

“Dit gesê, glo ek Rosko kan ’n gevaarlike speler wees, veral met die spelers aan sy binnekant,” sê Duncan.

Meer oor:  Vrystaat  |  Rory Duncan  |  Rosko Specman  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.