Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rosko tower Bul-afjak in Bok-kans om
As al die Springbokke soos Rosko Specman gekondisioneer is, sal hulle nie maklik deur die Britse en Ierse Leeus geklop word nie. Foto: Gallo Images

Sommige spelers sal sit en mor oor ’n afjak, maar Rosko Specman het dié een wat hy by die Bulle gekry het só goed tot sy voordeel aangewend dat dit hom tot in die Springbok-groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus help voer het.

“Soms, wanneer een deur toeslaan, word ’n ander een deur ons Almagtige God oopgemaak. Ek het die Bulle nie op my voorwaardes verlaat nie, maar het vrede daarmee gemaak. Dit was ook ’n keerpunt in my loopbaan,” sê Specman, wat aanlyn, vanuit die Springbokke se oefenkamp in Bloemfontein, met joernaliste gepraat het.

“Ek het na myself gaan kyk en myself afgevra of dit nie ’n geval is dat ek nie die dinge doen wat die afrigter by die Bulle soek nie, eerder as ek wat ’n probleem met die afrigter het. Dis waar ek hand in eie boesem gesteek en gesê het: ‘Rosko, dalk is jy die probleem.’ ”

Die afrigter ter sprake is Jake White, voormalige Springbok-breier wat die Bulle in ’n wenspan omskep het. Specman was nie deel van White se toekomsplanne nie en het die Bulle gevolglik verlede jaar verlaat om by die Cheetahs aan te sluit.

“As ek nou terugkyk, was dit ’n goeie ding,” sê Specman.

Rosko Specman word in Stormers-kleure vasgevat in die onlangse Reënboogbeker-wedstryd teen die Bulle. Foto: Gallo Images

“Dit wys dat jy op ’n dag ’n driekuns aan drieë kan aanteken en almal gelukkig met jou sal wees, maar dalk die volgende oomblik nie meer daar is nie. Dit was ’n keerpunt en vir my ’n boodskap dat ek weer hard moet werk.”

Specman hoop nou om op 32-jarige ouderdom die seldsame prestasie te behaal om die Springbokke in sowel die sewes- as 15-man-kode te kon verteenwoordig.

Presies hoe hy by Jacques Nienaber, Bok-afrigter, se planne sal inpas, moet nog gesien word, want daar’s beswaarlik rede om die vleuels wat by 2019 se Wêreldbeker-toernooi diens gedoen het te pos. Maar beserings is ’n gegewe in die spel en om die opsie van ’n blitsige en onvoorspelbare speler soos Specman te hê, is enige afrigter se droom.

Specman sê hy put baie inspirasie uit die verhaal van Cheslin Kolbe, ’n man wat dikwels as “te klein” vir 15-man-rugby gereken is voordat hy sy kans op toetsvlak aangegryp het.

“Om bloot in daardie kategorie te wees, is ongelooflik,” sê Specman.

“Ek dink die rede waarom hulle die beste uit Cheslin put, is dat daar ten volle geloof in hom gestel word en daar nie gepraat word oor hoe groot hy is nie. Jy kon in die Wêreldbeker-eindstryd sien waartoe hy in staat is. Hy kan iets uit niks skep nie. Hy is ongelooflik.”

“Ongelooflik” is ook ’n woord wat dikwels gebruik word om Specman te beskryf wanneer dit by sy toorkuns met die bal in die hand kom. Hy is só onvoorspelbaar, dat hy waarskynlik nie self eens weet wat hy volgende gaan doen nie en daar’s beslis baie vir Nienaber om te ontgin.

Specman se Bok-ambisies het hom laat besluit om hom voltyds daarop toe te spits eerder as om ’n tweede keer sewesrugby by die Olimpiese Spele te gaan speel.

Deur bloot die uitgebreide Bok-groep vir die Leeus-reeks te haal, het Specman reeds ’n doelwit bereik, maar hy mik hoër.

“Ek het vir myself gesê ek wil nie een van daai ouens wees wat sê, hoor hier, Rosko, jy kon hierdie kant toe gegaan het, maar jy het daardie pad gekies en was verkeerd nie. Toe sê ek vir myself, reg so, maak ’n besluit en gaan 100% daarvoor.”

Meer oor:  Springbokke  |  Rosko Specman  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.