Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ross Tucker: ‘Rugby sag? Se voet!’

Dis ’n idiotiese stelling dat rugby besig is om sag te word.

Só sê die sportwetenskaplike prof. Ross Tucker prontuit oor die gesprek wat sedert begin vanjaar woed oor rugby se reëls en of dit besig is om die spel sag te maak.

Dillyn Leyds van die WP word hooggevat deur Anthony Volmink van die Leeus in ’n Curriebeker-wedstryd. Foto: Backpagepix

Rugby se reëls, veral dié rondom hoogvatte, het die afgelope tyd weer deurgeloop nadat die voormalige Engelse toetsspeler James Haskell sy mond uitgespoel het ná ’n hoogvat deur hom wat sy span ’n drie gekos het.

Nog olie op die vuur was Wêreldrugby se onlangse aankondiging dat daar nuwe reëls rondom hoogvatte tydens vanjaar se Junior Wêreldtoernooi op die proef gestel gaan word.

Spelers wat hoogvatte uitvoer en wie se knieë nie gebuig is nie, word nie net op die veld gestraf as die skeidsregter dit sien nie, maar sal ook retrospektief deur ’n uitwysbeamptes gewaarsku word.

Twee sulke waarskuwings tydens die toernooi sal outomaties tot ’n skorsing van een wedstryd lei.

Later vanjaar, tydens Wêreldrugby se Trofeetoernooi vir o.20’s, sal nog ’n stel reëls getoets word waar verdedigers die baldraer onder die tepels sal moet duik anders sal die duikslag as ’n hoogvat beskou word.

Volgens Tucker is die beskerming van spelers se koppe van kardinale belang.

“Die sport is nog steeds so kliphard soos altyd, selfs veel harder,” sê hy.

“Kyk maar hoeveel spelers tree jonger uit, kyk na beserings en hoe gereeld dit gebeur.

“Dit is atlete wat goed gekondisioneer is, maar nogtans gereeld beseer word terwyl hulle ’n sport beoefen.

“Die pas van beserings verminder nie. Daarom is die sport steeds kliphard,” verklaar hy.

“Die idee dat die kop beskerm word, moet gesonde verstand wees, en as mense op die wa spring en sê dit is besig om rugby in raakrugby te laat ontaard, of dat die spel sag word, wys dit daar is ’n gebrek aan bewustheid.”

Ernst Joubert, voormalige Leeus- en Saracens-losvoospeler, is dit met Tucker eens dat rugby glad nie sag geword het nie, maar dat spelers groter en selfs meer fisiek is as tien jaar gelede.

“Jy kan al die reëls verander, maar die ou wat na my mening die meeste beserings opdoen, is die ou wat die verdediger is.

“In my tien jaar van rugby het ek vier nekbeserings opgedoen omdat ek laag geduik het.

“Dis die ideale posisie vir ’n duikslag, jy word geleer om laag te duik.

“Jy is onbeskermd omdat jy met die kop ingaan as jy laag duik en as ’n heup of knie jou tref, is die kanse groot dat jy harsingskudding gaan opdoen of ’n werwel beseer.

“Drie van die werwels wat ek al beseer het, was van drie normale duikslae.

“Jy kan baie doen om die baldraer te probeer beskerm, maar daar is min beskerming vir die verdediger.”

Hennie Bekker, voormalige slot van die Springbokke, wou weet waar rugby gaan opeindig met al die nuwe reëls.

“Een van die dae verbied hulle duikslae totaal,” sê hy.

“Rugby is beslis besig om sag te word.

“In my speeldae het ons ook sulke duikslae gehad, maar dit het nie so ’n groot invloed op die spel gehad nie.”

Volgens Bekker is hy ook nie te seker of die reëls oor gebuigde knieë en duikslae onder die tepel gaan slaag nie.

Meer oor:  Ross Tucker  |  Rugby  |  Rugbyreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.