Dit was ’n taai toets vir sy spelers en dis presies wat hy gesoek het, sê Chean Roux, die afrigter van die Suid-Afrikaanse o.19-span, oor die Suid-Afrikaners se naelbyt-oorwinning van 28-21 oor Georgië Maandag in Tbilisi.

Chean Roux, afrigter van die SA o.19-span en die Junior Springbokke. Foto: Gallo Images
“Dit was ’n taai wedstryd, veral in die winderige en koue toestande waaraan die spelers nie gewoond is nie, sê Roux.
“Maar ons verdediging het goed gehou en ons het daarin geslaag om hulle oor verskeie fases heen van ons doellyn af weg te hou.
“Die telling was nie vir ons die belangrikste aspek van die wedstryd nie. Dit was meer ’n geleentheid om die spelers te beoordeel en om hulle onder moeilike toestande beter te leer ken.”
Spelers wat Roux op dié toer beïndruk, sal sonder twyfel in die binnebaan wees om volgende jaar die Junior Springbokke by die o.20-Wêreldtoernooi te verteenwoordig.
Die SA o.19’s speel Donderdag in nog ’n wedstryd teen Georgië en daar is wel ’n paar dinge wat Roux dan wil sien.
“Ons sal aan ons dissipline moet werk. Ons kan nie bekostig om drie geelkaarte teen ons te kry nie en ons sal minder strafskoppe moet afstaan,” sê Roux.
“Maar dit is ’n leerproses. Die meeste spelers het mekaar vir die eerste keer laas Maandag ontmoet en dis verblydend om te sien hoe dinge bymekaar begin kom.”
Volgens die breier lyk dit nie in hierdie stadium of sy span enige ernstige beserings het nie.
Hy beplan egter wel om ’n paar veranderinge aan sy span vir die volgende kragmeting te maak. – Sportredaksie