Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Toeskouers moet terugkom – of unies sink

Verskeie rugbyunies sal hul deure moet sluit as toeskouers nie binnekort in stadions toegelaat word nie, waarsku Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby.

Jurie Roux Foto: Gallo Images

Roux, wat erken rugby leef tans “van hand tot mond”, het die afgelope week in ’n onderhoud met Rapport gesê SA Rugby is besig om ’n plan te beraam om toeskouers terug in stadions te kry. Dit sal aan die regering voorgelê word vir goedkeuring.

“Ons hoop daar sal wel toeskouers kan wees vir die Curriebeker-eindstryd met gesonde afstande wat gehandhaaf word.”

Die beoogde datum vir dié eindstryd is op 23 Januarie, met die halfeindstryde op 16 Januarie.

Roux sê plaaslike rugby sal nie nog ’n skok soos die Covid-19-pandemie oorleef nie.

“Die feit is dat rugby van hand tot mond leef. Elke rand wat inkom, gaan uit om die provinsies te ondersteun of om ons belangrikste rugbyprogramme – soos die Springbokke en plaaslike kompetisies – aan die gang te hou.”

Enige nuwe inisiatiewe of nienoodsaaklike besteding is deur SA Rugby gekanselleer.

Hulle is al ’n paar jaar besig met personeelvermindering en het volgens hom een van die kleinste permanente personeelkorpse van al die groot unies (sowat die helfte van dié van Australië of Nieu-Seeland).

Dus kon hulle afleggings vir nou eers vermy.

“SA Rugby en die unies bly egter in ’n onsekere posisie. Dit sou baie erger gewees het as dit nie vir twee dinge was nie: Die belyning regdeur die rugbybedryf wat betref ons besparingsplan, met ernstige salarisbenoeiings; en die ondersteuning wat ons gehad het van SuperSport en ons kommersiële vennote.

“Ons het ’n paar transaksies verloor wat onderhandel is aan die begin van die pandemie, maar ’n langtermynvennoot soos SAB (ABInBev) was baie ondersteunend. Van ons nuwer vennote, soos FNB, Samsung, Energade en Outsurance ondersteun ons ook nog al die pad. Land Rover het selfs sy borgskap hernu en Dell gaan ook. Ander groot vennote soos ASICS, MTN en Vodacom het ons ook baie gehelp.”

In totaal moes ons R1,2 miljard besnoei om te oorleef.

SA Rugby het sowat R100 miljoen aan borginkomste verloor, maar dit kon baie erger gewees het. Die organisasie se grootste finansiële knou was die verlies aan inkomste uit uitsaai­regte, veral van internasionale uitsaaiers.

“In totaal moes ons R1,2 miljard besnoei om te oorleef. Daar was skade: Die kredietwaardigheid van entiteite in die spel is beïnvloed, sommige mense het hul werk verloor en as dit nie vir Covid was nie, het die Southern Kings nog bestaan.

“Die grootste uitdaging vir almal is egter dat ons ’n lopende saak bly. Maar ek glo dat ons almal uiteindelik daardeur sal kom met ysere wil, samewerking en harde werk agter die skerms.”

Die moontlike impak wat Covid-19 volgende jaar kan hê, het SA Rugby aangemoedig om die sport deeglik te ondersoek. Hulle het veral gekyk na wat noodsaaklik is om te voldoen aan hul kerndoelwitte: Nasionale spanne wat wen.

“Ons sal nog ’n paar moeilike besluite moet neem om in 2021 oor die weg te kom, maar ons het die laaste paar weke goeie gesprekke gevoer met ’n potensiële borg vir die Gold Cup, ’n nuwe verskaffer in een van die kategorieë en ’n opwindende nuwe borg vir die Blitsbokke, wat tans nie ’n hoofborg het nie.

“Ons is ook ongelooflik opgewonde oor die vooruitsigte vir vrouerugby. Dit is een van die snelgroeiendste sportsoorte ter wêreld en daar is ’n innoverende onderneming wat die vrouerugby-verhaal in Suid-Afrika wil ‘besit’.

“In ’n land soos ons s’n, met soveel probleme rondom geslagsgeweld, bemagtig ons vroue deur middel van rugby – van ons o.16-meisiesweek tot by die Springbokvroue wat volgende jaar na die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland gaan.

“Ons vroue het ongelooflike persoonlike stories om te vertel. Daar is 20 ‘Siya’-verhale in die span en uitdagings wat oorkom word. Hoewel ons weet dat hulle nie ’n medalje gaan terugbring nie, glo ons ons staan aan die begin van ’n ongelooflik bemagtigende en aangrypende verhaal.

Ons het oorleef, en ons het nuwe belangstelling, maar ons het ook gapings ter waarde van R200 miljoen in ons portefeulje wat ons moet vul om die rugbyenjin te laat draai.

“Ons het die grootste rugbytoernooie ter wêreld in ons jeugweke – wat tans nie ’n hoofborg het nie – en ons wil aanstaande jaar ’n groot o.20-toernooi in die land aanbied vir die Junior Bokke om die volgende geslag Springbok-talent uit te stal.

“Ons het oorleef, en ons het nuwe belangstelling, maar ons het ook gapings ter waarde van R200 miljoen in ons portefeulje wat ons moet vul om die rugbyenjin te laat draai.”

Covid-19 het net weer aan SA Rugby bevestig dat hul geld uit elite- professionele rugby kom – en dat daar dinge is wat lekker is om te hê, maar nie ’n inkomste inbring nie.

Alles wat hulle doen, moet deur dié lens gesien word, want die marges waarmee SA Rugby werk, was reeds voor die pandemie te klein om al hul aktiwiteite lewensvatbaar te ondersteun. Nou het die marges heeltemal verdwyn.

Daar word natuurlik al jare lank in Suid-Afrikaanse rugby gepraat oor die nodigheid vir private beleggers by die land se unies, soos reeds die norm is in die meeste Europese ligas en kompetisies.

Daaroor, sê Roux, moet egter belangrike vrae gevra word.

“Die kontantinspuiting (van sulke private beleggings) sal voordelig wees, asook die kommersiële kundigheid en insigte. Maar ons moet onthou: Hulle kom nie net in as nietige beleggers wat in die presidentslosie wil sit nie; hulle kom in om geld vir hulself en hul vennote te maak. En hulle gaan nie noodwendig hou by die huidige manier van hoe dinge gedoen word nie.”

Volgens Roux het Covid-19 rugby wêreldwyd met minstens vyf tot agt jaar teruggesit.

“Die vorige tien jaar het alles oor uitbreiding gegaan. Ek glo minstens die volgende vyf jaar sal gaan oor vermindering en konsolidasie – ‘minder is meer’. Die fokus sal wees op hoe ons weer dieselfde inkomste as voor die pandemie kan begin genereer.

“Die spel sal digitaal gaan en die betrokkenheid van ondersteuners, asook die produk, sal moet verander. Terselfdertyd moet die ontwikkeling van die spel en die ondersteuning wat daarvoor nodig is, nie agteruitgaan nie.

“Private belegging sal ’n groter en groter rol speel en wêreldwye kompetisies en toernooie sal plaaslike toernooie vervang.”

Meer oor:  Jurie Roux  |  Verlies  |  Inkomste  |  Geldsake  |  Toeskouers  |  Sa Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.