Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ruan sê Cheetahs dié keer gereed

Die Cheetahs het met Ruan Pienaar in hul geledere dalk hul beste kans tot nog toe om ’n eerste Pro14-wedstryd in Ierland te wen.

Ruan Pienaar / Foto: Gallo Images

Dis nie net danksy die spel van dié ervare oud-Springbok-skrumskakel nie, maar ook vanweë sy uitgebreide kennis van toestande in Ierland.

Die Cheetahs kom Saterdag teen Connacht in Galway te staan, waar ’n omgekrapte tuisspan en boonop ysige en nat weer op hulle wag.

Pienaar het lank vir Ulster in Noord-Ierland gespeel en het voor hul vertrek gesê hulle kan hulle gereedmaak vir ’n moeilike eerste toerwedstryd daar.

Die temperatuur wat voorspel word wanneer die wedstryd om 18:15 afskop, is ’n skrale 4 °C met ’n aanvoelbare temperatuur van net 2 °C.

“Dis iets waaraan ons vinnig gewoond sal moet raak, ons het baie daaroor gepraat,” sê die kaptein.

“Ons sal nietemin moet hou by die vaardighede wat ons het en steeds ons eie soort rugby speel, soos ons in die eerste wedstryde gedoen het, om ons teenstanders onder druk te plaas.

“Die nuwe afrigters (Hawies Fourie, hoofafrigter, en Melusi Mthethwa, agterlynafrigter) wat ingekom het, het strukture in plek gesit om dit so goed moontlik te help hanteer.

“Connacht (met twee oorwinnings in sy eerste drie wedstryde) is ’n baie goeie span en het net twee spelers aan Ierland vir die Wêreldbeker-toernooi afgestaan, so hulle beskik oor bestendigheid wat die spankeuse betref. Daar wag ’n groot uitdaging op ons in Galway. Die uitdaging op toer is in elk geval om jou teen die beste te meet,” sê Pienaar.

Hy sê hulle gaan nie die Cheetahs se fout in die eerste seisoen herhaal deur nie goed genoeg voorbereid te wees vir die toestande wat op hulle oorsee wag nie. Dit kan die verskil tussen ’n oorwinning en ’n nederlaag beteken.

“Ons het die week (Maandag twee keer en Dinsdagoggend voordat hulle Ierland toe vertrek het) goed geoefen en die afrigters het alles in plek gesit vir wat ook al op ons wag. Die senior spelers sal die toestande lees en sien wat die beste opsies sal wees en daarvolgens die regte besluite neem.

“Maar, ek moet sê, ek sien nogal uit om oorsee aan die gang te kom. Dis ’n jong groep spelers wat hou van toer en ek dink hulle sien daarna uit om tyd saam te bestee. Dis egter belangrik op ’n toer van drie weke dat jy goed begin en die weg baan vir die res van die toer.”

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.