SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Rugby
Rudy wil ’n nuwe bladsy by VS omslaan

Hy wil sy loopbaan terug op koers kry en daarom is die Springbok-skrumskakel Rudy Paige bly dat die Cheetahs sy kontrak tot einde Oktober 2019 verleng het.

Hy het in Maart by die Cheetahs met ’n korttermyn kontrak van drie maande aangesluit nadat hy ’n koue skouer van die Bulle se breier, John Mitchell, gekry het.

Rudy Paige (links) was dodelik teen die Westelike Provinsie XV-tal in die kwarteindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks in ’n koue, nat Kaapstad. Foto: Gallo Images

Paige was een van die staatmakers in die SuperSport-uitdaagreeks. Hy was veral dodelik in die kwarteindstryd teen die Westelike Provinsie toe hy die Vrystaat XV-tal tot ’n plek in die halfeindstryd gehelp het.

Daar was sprake met sy aankoms in die Rosestad dat hy in die Pro14-reeks in aksie sou wees, maar hy het nié speelkans gekry nie.

“Ek wil my loopbaan weer op koers te kry, goeie rugby speel en ’n bydrae maak. Dit gaan nie daaroor om die Curriebeker- of Pro14-groepe te haal nie, want om te speel, is die belangrikste.

“Die besluit om die kontrak-verlenging te aanvaar, was dus nie ’n probleem nie,” sê die 28-jarige Paige.

Hy sê in die kort tydjie by die Cheetahs het hy geleer wat dit verg om ’n gevaar op skrumskakel te wees, eerder as om net ’n verspreider van die bal te wees.

Paige is een van vyf skrumskakels in die Cheetahs se vergrote groep saam met Shaun Venter, Tian Meyer, Zee Mkhabela en Ruben de Haas.

Nóg ’n skrumskakel in die groep, Ruan van Rensburg, is verlede jaar op vleuel ingespan en alle aanduidings is dat dit dié seisoen weer sy voorland kan wees.

Ek wil my loopbaan weer op koers te kry, goeie rugby speel en ’n bydrae maak
Rudy Paige

Paige, wat 13 toetse vir die Bokke gespeel het, sê hy was die Bulle en by die Bokke ook in moeilike situasies en die feit dat daar amper ’n ooraanbod van skrumskakels by die Cheetahs is, beteken dat die mededinging soveel sterker is.

“Ek sal eenvoudig harder moet werk, my beste gee en in myself glo. Dan behoort dit nie te moeilik te wees nie. In elk geval, mededinging is goed vir die span en by die Cheetahs kom nie span altyd eerste, nie die individu nie,” sê hy.

Paige is Rosestad toe gelok deur Franco Smith (toe nog direkteur van rugby en nou hoofafrigter).

Paie praat met groot lof van Smith.

“Hy is ’n baie gedrewe afrigter en weet watter standaarde hy van sy spelers soek. Hy weet waarnatoe hy op pad is en ek weet ek gaan groei onder sy afrigting,” sê Paige.

* Die vaskopstut Gunther Janse van Vuuren (22) het ’n kontrak van twee jaar – tot einde Oktober 2020 – met die Cheetahs geteken.

Meer oor:  Pro14  |  Rudy Paige  |  Cheetahs  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.