Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rug-eina kan Blitsbok-kaptein kasty

Die Springbok-sewesspan gaan straks vanjaar Wêreldrugby se sewesreeks, wat ook as Olimpiese voorbereiding dien, sonder sy ervare kaptein, Philip Snyman, aanpak.

Rapport verneem dat die strydros, wat al in 62 toernooie vir die Blitsbokke uitgedraf het, weens ’n knaende rugbesering binnekort die besluit gaan neem om sy rugbystewels te bêre.

Philip Snyman saam met sy vrou, Estee, en dogter, Emily. Foto: Gallo

Dis alom bekend dat die gordyn binnekort op Snyman se sewesloopbaan sou sak nadat hy die span gehelp het om vir die Spele te kwalifiseer, maar daar was steeds hoop dat hy ten minste nog dié seisoen in ’n paar toernooie sou speel om die fakkel stelselmatig aan die jonger garde oor te dra.

Dié rugbesering, wat hom nou al ’n tydjie lank knou, lyk egter of dit die laaste sê in sy roemryke Blitsbok-loopbaan gaan hê.

As kaptein het Snyman die Blitse tot twee wêreldtitels – in die 2016-’17- en 2017-’18-seisoen – gelei, terwyl hy ook ’n bronsmedalje met die Springbok-sewes by die Olimpiese Spele in Rio in 2016 verower het.

Hy was ook deel van die Blits-span wat in 2008-’09 se Wêreldreeks vir die eerste keer gewen het.

Goeie nuus uit die Blitsbok-kamp die afgelope week is dat verskeie staatmakers, onder andere Rosko Specman, Ruhan Nel, Dylan Sage en Seabelo Senatla, hulle weer met die oog op 2020 se Tokio-spele in Stellenbosch by die Blitsbokkamp aangesluit het.

Dié ervare Blitse is verkiesbaar vir Neil Powell, SA-sewesafrigter, se span tydens die 2019-’20-sewesseisoen.

Hacjivah Dayimani. Foto: gallo

Hacjivah Dayimani, woelige losvoorspeler van die Leeus, het hom ook, soos Rapport vroeër vanjaar berig het, by die Blitsbok-kamp aangesluit.

Dayimani het die afgelope week gesê hy sien uit na die uitdaging wat op hom in sewes wag.

Intussen het die Blitsbokke gister hul voorbereiding vir die nuwe seisoen in alle erns begin tydens die Oktoberfest-sewestoernooi in Duitsland.

Powell het ’n volsterkte span gekies vir dié toernooi. Dit wys net hoe ernstig hy die komende seisoen beskou. Die Blitse sal veral ’n goeie begin in Dubai en Kaapstad (die eerste twee toernooie vanjaar) wil verseker nadat hulle verlede seisoen ’n sukkel-begin tot die reeks gehad het.

In gister se vroeë wedstryde het Suid-Afrika teen Nieu-Seeland en Engeland te staan gekom.

Hulle het die All Black-sewes in ’n moeilike eerste stryd met 19-12 geklop. Albei spanne was byna op volle sterkte met Kurt-Lee Arendse, Branco du Preez en Dewald Human wat vir die Blitse gaan druk het.

In die tweede stryd teen Engeland was daar ook nog so effe roeserigheid onder die spelers, maar hulle kon uiteindelik vier drieë druk om met 24-5 die knoop deur te hak.

Arendse het ’n driekuns aan drieë behaal, terwyl die kaptein, Siviwe Soyizwapi, ook gaan druk het.

Meer oor:  Philip Snyman  |  Sewesreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.