Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugby Australië draai sy rug op Israel

Australiese rugbybase het Israel Folau se kontrak beëindig weens sy uitlatings op sosiale media dat gay mense hel toe gaan as hulle nie tot inkeer kom nie.

Israel Folau se rugbyloopbaan in Australië is straks iets van die verlede. Foto: Getty Images

Rugby Australië (RA) se uitvoerende hoof, Raelene Castle, sê Folau (30) het hom skuldig gemaak aan ’n “hoëvlak-oortreding van die beroepspelers se gedragskode wat sy afdanking regverdig”.

ABCSport berig die Wallaby-ster het 48 uur om die afskaffing van sy kontrak te aanvaar. Indien nie, moet hy hom voorberei om voor ’n gedragskode-verhoor te verskyn.

Die heelagter het 73 toetse vir sy land gespeel en sou na verwagting ’n sleutelrol in die Wallabies se Wêreldbekerveldtog in Japan later vanjaar vervul.

Folau, wat in Maart sy kontrak met sy Superrugbyspan, die Waratahs, met vier jaar verleng het en tot 2022 aan die RA verbind was, het verlede jaar straf vrygespring vir soortgelyke uitlatings.

“Israel is amptelik en herhaaldelik gewaarsku oor ons verwagtinge van hom as ’n speler van die Wallabies en Waratahs met betrekking tot sy gebruik van sosiale media en hy het nie aan daardie verwagtinge voldoen nie,” sê Castle.

“Dit is duidelik aan hom gestel dat enige aktiwiteit op sosiale media wat op enige manier disrespekvol is teenoor mense weens hul seksualiteit, dissiplinêre stappe tot gevolg sou hê.”

Raelene Castle spreek die media Maandag in Sydney toe. Foto: Getty Images

Folau, ’n stoere Christen, het verlede week op Instagram gesê “die hel wag vir dronkaards, homoseksuele, egbrekers, leuenaars, hoereerders, skelms, ateïste en dienaars van afgode” en dat hulle tot bekering moet kom. Net Jesus kan hulle red, lui die plasing.

Die plasing is steeds sigbaar op sy sosiale media en die speler het Sondag gesê hy staan by “wat die Bybel sê”.

“Ek deel dit met liefde,” sê Folau. “Ek kan die ander kant van die muntstuk sien waar mense se reaksie die totale teenoorgestelde is van hoe ek dit gedeel het.

“Eerstens en belangrikste, ek lewe nou vir God. Wat ook al Hy wil hê ek moet doen, ek glo sy planne vir my is beter as enigiets waaraan ek kan dink. As dit is dat ek nie aanhou speel nie, dan berus ek my daarby.

“Uit die aard van die saak is ek lief daarvoor om rugby te speel en as dit daardie paadjie volg, sou ek dit beslis mis. Maar my geloof in Jesus Christus is wat eerste kom.”

Die Wallabies se afrigter, Michael Cheika, het boonop Maandag gesê Folau se “disrespekvolle” plasings op sosiale media maak dit onmoontlik om die ster-agterspeler vir die Wêreldbekertoernooi te kies.

“Wanneer jy in die goue trui speel, verteenwoordig jy almal in Australië – almal. Almal daarbuite wat ons ondersteun. Ons kies en keur nie,” sê Cheika.

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby  |  Israel Folau  |  Wallabies  |  Superrugby  |  Raelene Castle  |  Ra  |  Waratahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.