Rugby Australië (RA) het aangebied om rondom Julie vanjaar ’n “mini-Wêreldbekertoernooi” aan te bied.

Hamish McLennan, voorsitter van Rugby Australië (RA) Foto: Getty Images
Hamish McLennan, voorsitter van RA, sê die toernooi kan gedurende die winter (in die Suidelike Halfrond) gehou word “om die internasionale rugbykalender midde-in die Covid-19-pandemie aan die gang te hou”.
Hy meen die spel-kalenders in Europa en Suid-Afrika is uiters onseker weens dié virus, en Australië het al gewys hy is gerat om sport in ’n veilige omgewing aan te bied.
Die Britse en Ierse Leeus is veronderstel om in Julie in Suid-Afrika te toer, maar dit lyk al meer onwaarskynlik dat vol stadions teen daardie tyd toegelaat sal word.
Frankryk sal volgens beplanning in Julie Doer Onder teen die Aussies speel en RA is nou van plan om ander rugbylande te vra om hulle by die Hane aan te sluit.
“Ons verwag steeds dat die Rugbykampioenskap vanjaar sal plaasvind, maar dalk kan ons iets byvoeg en ’n mini-Wêreldbekertoernooi aanbied,” het McLennan aan die Financial Times gesê.
“Ons speel teen die Franse in Julie, maar as daar ander spanne is wat hulle by ons wil aansluit, sal dit wonderlik wees.
“Daar is baie Britte, Iere en Suid-Afrikaners wat hier bly.
“Ons is bereid om ’n nuwe toernooi te skep en die internasionale kalender aan die gang te hou.”
Daar is glo selfs sprake dat die Leeus en die Springbokke se toetsreeks in Australië beslis kan word.
Die Rugbykampioenskap is verlede seisoen tot die einde van die jaar uitgestel en het uiteindelik ’n Drienasiesreeks (Nieu-Seeland, Australië en Argentinië) geword nadat die Springbokke aan die kampioenskap onttrek is.
Australië het strenger grensbeheer en veiligheidsprotokolle ingestel om die verspreiding van dié virus te beperk.
Die Aussies speel tans tuis teen Indië in ’n kriekettoetsreeks en die Australiese Ope-tennistoernooi begin op 8 Februarie in Melbourne. – Reuters