Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Mbatha: ‘Rugby-droom is vir my familie’
Fez Mbatha koel af tydens ’n oefening in ’n warm Durban in Desember verlede jaar. Foto: Gallo Images

As Fez Mbatha vorentoe sy Springbok-kans kry, sal die voormalige haker van die Haaie Craig Burden die eerste een wees wat ’n dankie-sê-oproep sal kry.

Mbatha is ’n tree nader aan sy Springbok-droom toe hy verlede week deur die Bokke se hoofafrigter, Jacques Nienaber, genooi is om ’n Bok-belyningskamp in Durban by te woon.

En Burden is die een wat hom in Durban onder sy vlerk geneem het toe Mbatha in 2019 saam met die Durbaniete se senior groep op Kingspark ingeval het.

Burden, wat in meer as 100 wedstryde die Haai-trui as haker aangetrek het en in 2020 uit rugby getree het, het ’n bloedjong Mbatha die kunsies van die “enjinkamer” geleer.

“My X-faktor is my skrumwerk,” sê Mbatha.

“Dit het baie (op senior vlak) verbeter. Ek moet Craig Burden daarvoor bedank. Hy het my daarmee gehelp toe hy nog hier by die Haaie as speler was. My spel as baldraer het ook verbeter.”

Die 21-jarige Mbatha is saam met die Stormers se Scarra Ntubeni en Bongi Mbonambi die enigste plaaslike hakers wat die afgelope 14 dae die Suid-Afrikaanse belyningskampe bygewoon het.

Malcolm Marx (Kubota Spears) behoort die Japanse belyningskamp by te woon, terwyl Akker van der Merwe (Sale Sharks) en Joseph Dweba (Bordeaux) uitnodigings na die Europese een behoort te kry.

Selfs die 36-jarige Bismarck du Plessis het verlede naweek met een van sy beste vertonings in jare vir sy Franse klubspan, Montpellier, teen Benetton gewys dat hy dieselfde rol as ’n Schalk Brits in die Bok-groep kan vertolk.

Seniors soos Brits, Francois Louw en Beast Mtawarira het met hul uittrede ’n groot leemte in die Bok-groep gelaat, waaroor Nienaber-hulle deeglik sal moet besin.

Mbatha se uitnodiging na die belyningskamp is dalk ’n verrassing vir ondersteuners, maar in die binnekringe van Suid-Afrikaanse rugby was dit byna te wagte aangesien hy ’n produk van SA Rugby se pyplyn is.

Fez sê Craig Burden het hom baie met sy skrumwerk gehelp. Foto: Gallo Images

Hy is op o.16-vlak die eerste keer deur SA Rugby geïdentifiseer. Nadat hy vir die Haaie aan die Grant Khomo-week deelgeneem het, is hy in die nasionale groen groep ingesluit.

Sedertdien het hy deel van die pyplyn gebly deur later die SA Skolespan en die Junior Bokke te verteenwoordig.

Nienaber-hulle volg sy spel en vordering dus al jare.

“Ek is verheug dat ek genooi is. Ek is soos ’n spons wat alle inligting opslurp. Ek wil leer, vinnig leer.

“Ek wil my werk doen om moontlik teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Ek wil hard druk en op alle afdelings van my spel probeer verbeter.”

Mbatha is oorspronklik van Esikhawini net buite Empangeni. Hy is in gr. 4 die eerste keer aan rugby bekend gestel.

Herman Muller, die destyds afrigter van Richardia Primary School in Richardsbaai se eerste span, het Mbatha se talent eerste raakgesien. Hy het hom al as ’n gr. 5-leerling vir sy eerste span gekies.

Met sy deelname aan die Cravenweek vir laerskole het die voormalige Haai-speler en -hulpafrigter Ryan Strudwick hom raakgesien en na Maritzburg College in Pietermaritzburg gelok.

“Herman en my broer, Lindo, is die twee mense wat ek sou sê die grootste invloed op my loopbaan gehad het.

“Lindo is ouer as ek. Ek wou altyd dieselfde as hy doen.

“Dit was egter eers op o.16-vlak toe ek vir die groen groep gekies is dat ek besef het rugby kan my beroep word. Ek het daarna harder begin werk.”

Hyself is egter verras met sy blitsige opgang. Mbatha het byvoorbeeld nooit verwag dat hy al op 19-jarige ouderdom die eerste keer Superrugby vir die Haaie sou speel nie.

Ek speel rugby om die lewe van my familie te verbeter. Dit bly my nommereen-doelwit.

Hy besef hy is nog nie die volmaakte eindproduk nie, daarom werk hy voortdurend aan onder meer sy werkverrigting.

Vir Mbatha is sy familie sy dryfkrag.

“Ek speel rugby om die lewe van my familie te verbeter. Dit bly my nommereen-doelwit.”

Nienaber sê in ’n nuusverklaring hy is tevrede met wat by die belyningskampe bereik is.

“Ons het eerstens inligting oor kommersiële en bemarkingsverpligtinge gedeel, want ’n Leeu-toer is ’n bietjie anders as ’n gewone een,” sê Nienaber.

“Ons het die spelers ook ’n skedule gegee met soveel as moontlik besonderhede.

“ ’n Groot deel van die saamtrekke was om te sien waar ons as ’n span is – nie net die spelers nie, maar ook die bestuur. Nou weet ons waar tekortkominge is.

“Nóg ’n groot doelwit was om die spelers te laat begryp wat van hulle verwag word om vir die Bokke gekies te word,” sê hy.

Meer oor:  Haker  |  Haaie  |  Craig Burden  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.