Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugby het krieketspeler Eddie verower
Eddie Davids in aksie vir die Vrystaat se o.21-span in 2019 in ’n wedstryd teen die Westelike Provinsie in Kaapstad. Foto: Gallo Images

’n Paar jaar gelede was dit Eddie Davids, een van die staatmakers in die Ixias se skrum in die Varsitybeker-reeks, se droom om vir die Proteas krieket te speel.

Davids (23) was ’n bedrewe krieketspeler, wat in die Brebner Primary School in Bloemfontein was, waar daar nie rugby gespeel word nie.

Hy is met ’n krieketbeurs na die Hoërskool Fichardtpark, waar hy in graad agt eers begin rugby speel het. Regdeur sy hoërskoolloopbaan het hy krieket en rugby beoefen.

En hy was in albei ewe goed. In 2016 is Davids, ’n loskopstut, vir die Vrystaat se o.18-Cravenweekspan gekies. Net om later daardie jaar die Vrystaat ook by die Khaya Majola-week vir provinsiale o.19-krieketspanne te verteenwoordig.

Davids, ’n draaibalbouler en middelordekolwer, was deel van ’n gedugte Vrystaat-krieketspan, wat spelers soos Raynard van Tonder, Gerald Coetzee en Christopher Schreuder ingesluit het.

Oë op die bal! Eddie Davids in ’n wedstryd tydens die Khaya Majola-week vir provinsiale o.19-spanne in 2016 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Toe ek met rugby begin het, was dit nie my eerste keuse nie. Maar toe ek sien dinge begin vir my gebeur, het ek meer daarvan begin hou,” sê Davids.

Ná skool het hy krieket vaarwel toegeroep en hom by die Haaie se rugby-akademie aangesluit. Daar het hy die KwaZulu-Natallers op junior vlak verteenwoordig, maar hy wou graag sy rugbyloopbaan meer woema gee.

“Vir my was die Varsitybeker ’n geleentheid om blootstelling te kry. Dit is die hoofrede hoekom ek teruggekom (na die Rosestad) het,” sê hy.

“By die Haaie is dit mos eintlik net die unie en klubrugby (die Universiteit van KwaZulu-Natal speel in die Varsityskild-reeks) en niemand kyk regtig klubrugby nie.”

Davids is sedert 2019 ’n student in inligtingstegnologie by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en het vir die Vrystaat se o.21-span uitgedraf. Hy is ’n belangrike rat in die Ixias-masjien se gedugte skrumwerk van die afgelope jaar of twee.

Tiaan Liebenberg, voorspeler-afrigter van die Ixias. Foto: Varsity Cup

“Ons vaste fasette en verdediging is vir ons baie belangrik en ons is baie passievol daaroor. Vir ons is dit belangrik om te oorheers. Selfs by oefeninge is dit vir ons lekker om te skrum,” sê Davids.

“Dit is ons oomblik op die veld, om ander spanne terug te stoot. Om coach Tiaan (Liebenberg, ’n voormalige Springbok-haker) as voorspeler-afrigter te hê, maak ook dinge makliker, omdat hy soveel kennis en ervaring van die skrums en lynstane het.”

Raak Davids nie soms nostalgies as hy krieket kyk en wonder wat kon gewees het as hy nie dié spel laat vaar het nie?

“Deesdae kyk ek nie meer so baie krieket nie, eintlik net as dit iets groot soos ’n Wêreldbeker-toernooi of so iets is. Soms, as ’n kolwer ’n slegte hou gespeel het, sal ek dink dat hy dalk eerder sus of so moes gemaak het.”

Meer oor:  Varsitybeker  |  Krieket  |  Ixias  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.