Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Rugby is ons liefde’, sê Eloise Webb

Toe die Suid-Afrikaanse rugbyspeler Eloise Webb die eerste keer ’n rugbyoefening bywoon het, is haar trui geskeur en het sy daar en dan besluit dit is nie die sport vir haar nie.

Eloise Webb probeer uit die greep van ’n speler van Rusland te kom tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Vir dié 24-jarige, wat voorheen die nasionale o.19-krieketspan verteenwoordig en ook vir Madibaz netbal gespeel het, was dit ’n wrede ontnugtering. Dit is toe dat haar ma, Dalene, wat vroeër vanjaar oorlede is, haar oortuig het om weer te probeer.

“My ma het altyd so mooi met ons gesels en ons gemotiveer. Sy het vir my gevra of ek regtig nou gaan moed opgee. Alles wat ek vandag is, is regtig danksy my ouers (Dalene en Rob) en Liewe Jesus.

Eloise Webb tydens ’n kragmeting vir die Oostelike Provinsie se krieketspan in 2016 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“As daar iets was, het my ma, wat baie lief vir sport was, ons (sy en haar sibbe, Roallan en Cindy-Lee) daarvoor ingeskryf,” sê Webb, wat die nasionale rugbyspanne in sewes en vyftiens verteenwoordig.

Haar pad het met rugby gekruis toe haar broer, wat vir Grens sewes gespeel het, eendag tydens ’n toernooi met iemand aan die gesels geraak het.

“Hy vertel toe dat hy ’n suster het wat saam met hom rugby in die agtertuin speel. Hy was eintlik nogal heel in sy skik daaroor.

“Toe ek by daardie eerste oefening kom, het ek egter groot geskrik. Sommige van daardie meisies was groot en ons was in groepe ingedeel en ons moes deur mekaar (dit wil sê kontak) hardloop. Dit was toe dat my top geskeur het en ek besluit het dit is genoeg,” sê Webb.

Maar sy het teruggegaan en toe die gogga eers gebyt het, kon sy net nie genoeg van rugby kry nie. Tog erken sy as dit van haar afhang, het sy steeds netbal en krieket ook gespeel.

Webb is juis tydens haar studentedae na oefenkampe van die nasionale opkomende krieketspan genooi, maar moes dit elke keer weens haar druk program van die hand wys.

Suid-Afrika het reeds gekwalifiseer vir die Wêreldbeker-toernooi in vyftiens, wat in September 2021 in Nieu-Seeland afskop.

En Webb, ’n heelagter in die langer weergawe van die spel wat haar land reeds in drie toetse verteenwoordig het, hoop om deel van daardie skouspel te wees.

Eloise Webb in aksie vir die Madibaz tydens ’n kragmeting in die Varsity-netbalreeks. Foto: Varsity Sports

“Ek moet sê, ek sien geweldig daarna uit. Dit is ’n goeie geleentheid en iets om voor te oefen.

“Ek dink volgende jaar gaan die fokus maar hoofsaaklik op dít wees en as hulle ons by die sewes nodig het, sal ons soontoe gaan,” sê sy.

Aan die vooraand van Vrouedag het Webb openlik oor die stigma wat daar nog aan vrouerugby in Suid-Afrika kleef, gesels.

“Mense het maar hul eie menings. Rugby is ons liefde en ons doen dit omdat ons daarvan hou. My tannie was aanvanklik teen dit en ek het nooit daaroor gepraat as sy naby was nie.

“Nou is sy my grootste ondersteuner en vra altyd uit hoe dit gaan en wanneer ons speel. Dit is omdat sy die meisies wat rugby speel, leer ken het,” sê Webb.

“Ek dink met die Kaapstad-toernooi (in Desember 2019) het ons reeds baie reggekry om persepsies te verander. Onthou, anders as seuns wat van vroeg af reeds rugby speel, begin die meeste van ons eers te speel in ons 20’s.”

Meer oor:  Sewesrugby  |  Netbal  |  Wêreldbeker  |  Madibaz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.