Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugby kry groen lig, maar spanne lugtig

Al mag Suid-Afrika se beroepsrugbyspelers van Maandag af onder streng voorwaardes weer begin oefen, sal die meeste spanne nog nie dadelik begin om balle uit te gee en rond te skop of duiksakke plat te duik nie.

Siya Kolisi, die Springbok- en Stormers-kaptein, is gereed om weer te begin oefen. Foto: Gallo images

Rapport se inligting is dat die Leeus en Haaie hul spelers die week teruggeroep het na onderskeidelik Johannesburg en Durban, maar dat hulle eers die spelers sal moet “onderrig” oor die protokolle wat vir hul gesondheid gevolg moet word voordat hulle kan terugkeer veld toe.

Die Stormers beplan om die week eers mediese toetse te doen. Hulle is onseker oor wanneer hulle weer sal begin oefen. Die Bulle besluit dié week oor die hervatting van oefening.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende hoof, Jurie Roux, het Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, se aankondiging gister verwelkom dat rugbyspanne weer mag begin oefen.

Mthethwa het sportspanne 14 dae gegee om voorstelle by die departement in te dien oor hoe hulle die veiligheid van spelers sal verseker.

“Dit is die nuus waarop sport al lankal wag, veral omdat dit ons toelaat om ons voorbereidings te versnel om uiteindelik weer op die veld te wees,” sê Roux in ’n verklaring.

“Ons het vyf weke gelede ’n omvattende protokol-dokument, wat verskillende vlakke vervat oor die terugkeer tot die speelveld, by die departement ingedien en ons is gereed om onmiddellik te begin met die mediese toetsing van spelers.

“Ons sal verdere duidelikheid van die departement aanvra oor die toepassing van die riglyne soos wat dit op kontakoefening van toepassing is.

“Dit is ’n geleentheid vir ons spelers om hul oefenprogramme tydens die inperking te verbeter deur hul fiksheid op te skerp met die oog op die terugkeer tot die speelveld.”

Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof, het bevestig hul spelers is teruggeroep Durban toe.

Die Leeus het al hul spelers teruggeroep vir ’n vergadering Donderdag in Johannesburg, waar hulle beplan om spelers in te lig oor die reëls wat geld.

Die Bulle wag die week vir hul nuwe uitvoerende hoof, Edgar Rathbone, en direkteur van rugby, Jake White, om in Pretoria aan te kom en hulle sal eers dan besluit hoe hul spelers sal terugkeer na Loftus Versfeld.

Die Stormers kan môre na hul hoëprestasiesentrum in Bellville terugkeer, maar spelers gaan eers deeglik getoets word en deur die mediese protokol gaan voordat hulle weer op die veld toegelaat sal word.

“Ons gaan nie die ouens te hard druk met dinge soos kontak nie. Daar sal ook nie met balle geoefen word nie. Ons wil eers ’n behoorlike plan sien wat aandui hoe ons sal terugkeer,” sê John Dobson, afrigter van die Stormers.

“Daar is ’n voorseisoen van omtrent agt weke wat ons nou het, so daar is tyd. Van volgende week af sal ons kyk om die ouens met hul kondisionering te help. Spelers sal in groepe van nie meer as twee nie begin hardloop.”

Volgens Saru se Covid-komitee, wat aangestel is om na die terugkeer van rugby te kyk, sal streng prosedures gevolg moet word.

Dit sluit in die ontsmetting van alle gebiede, asook gereelde toetsing. Alle werknemers sal ook daagliks selfsifting moet doen voordat hulle werk toe kom.

Intussen het Dobson bevestig die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, sal saam met sy Wêreldbeker-spanmaats Bongi Mbonambi, Herschel Jantjies en Pieter-Steph du Toit gereed wees vir rugby indien dit in Augustus hervat.

Kolisi, Mbonambi en Jantjies sal reeds vandeesweek saam met die Stormers kan begin oefen nadat hulle van hul langtermyn-beserings herstel het.

Die verwagting is dat Du Toit teen einde vandeesmaand of vroeg in Julie gereed sal wees.

“As Augustus of laat Julie die tentatiewe terugkeer tot rugby is, sal almal in ons groep fiks wees,” het Dobson aan Rapport gesê.

Meer oor:  Koronavirus  |  Nathi Mthethwa  |  Haaie  |  John Dobson  |  Stormers  |  Protokol  |  Leeus  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.