Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Proefreëls: ‘Oranjekaart’, minder skrums

“Oranjekaarte” vir gevaarlike duikslae, geen skrumhervattings en verkorte rolmaalbewegings tel onder die tien opsionele en tydelike proefreëls wat Wêreldrugby voorstel om die oordragrisiko van Covid-19 op die rugbyveld te beperk.

Volgens Wêreldrugby se voorgestelde reëlveranderinge, wat opsioneel is en tydelik ingestel kan word weens die koronavirus, sal skrums wat inmekaarstort, nie hervat word nie. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) kan egter nog nie sê of hy enige van dié tien reëlveranderinge gaan implementeer wanneer rugby in Suid-Afrika weer hervat nie, maar Nieu-Seeland gaan dit nie gebruik nie.

Wêreldrugby het Donderdag in ’n verklaring gesê die proefreëls is beskikbaar vir unies wat dit in werking wil stel, maar dat dit weens die uiteenlopende aard van die Covid-19-pandemie in verskeie lande nie verpligtend is nie.

Die nuwe reëls het ten doel om onnodige kontak op die speelveld tot die minimum te beperk en is volgens riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie opgestel. ’n Reëlhersieningskomitee van Wêreldrugby het na 60 wedstryde gekyk en daarna die proefreëls voorgestel, wat vastevyfspelers se risiko om blootgestel te word glo met meer as 30% sal verminder, die risiko vir blootstelling by afbreekpunte met 25% sal verminder en by rolmaalbewegings met 50%.

Vier van die voorgestelde reëls hou met skrums verband:

* As ’n skrum ineenstort sonder dat een van die twee spanne oortree het, sal dit nie hervat word nie, maar ’n vryskop sal toegeken word aan die span wie se skrum dit was.

* Hakers sal van ’n “remvoet” gebruik maak om stabiliteit aan te help.

* Skrums sal nie meer ’n vryskop- of strafskopopsie wees nie.

* As ’n aanvallende speler oor die doellyn opgehou word of die bal oor die doellyn aanslaan, sal daar nie meer ’n 5 m-skrum vir die verdedigende span wees nie, maar ’n inskop van die doellyn af.

’n Interessante reël word voorgestel vir gevaarlike duikslae. Liewer as om ’n rooikaart vir ’n gevaarlike duikslag te wys, sal ’n skeidsregter ’n oranjekaart vir die oortreder wys, wat dan die veld sal verlaat. Die TV-skeidsregter of uitwysbeampte sal die voorval dan hersien en as dit as ’n duikslag gesien word wat ’n rooikaart regverdig, sal die speler nie terugkeer nie. As die kykweer wys die duikslag was net ’n geelkaart werd, kan die speler ná 15 minute in die koelkas terugkeer.

Van die ander voorgestelde proefreëls is soos volg:

* Geen bykomende speler anders as dié wat van die begin af gebind was, mag by ’n rolmaalbeweging aansluit nie.

* Slegs een vorentoe-beweging per rolmaal word toegelaat. Sodra die span dus momentum verloor, mag hy nie stop en probeer om weer te rolmaal nie;

* Wurggreepduikslae (duikslae waar die aanvallende speler se bene van die grond afgehou word, om sodoende ’n rolmaal te skep en moontlik besit om te keer) word nie meer toegelaat nie. Die skeidsregter blaas dit as ’n duikslag en die bal moet dan beskikbaar gestel word aan die aanvallende span.

* Die skrumskakel het nie meer 5 sekondes om die bal agter ’n afbreekpunt te speel nie, maar net 3, anders kry die ander span ’n vryskop.

Wêreldrugby stel voor dat daar nie bykomende spelers by ’n rolmaalbeweging mag aansluit nie. Foto: Getty Images

Wêreldrugby het ook ander maatreëls voorgestel om higiëne op en rondom die rugbyveld op te skerp, waaronder die vermyding van drukkies ter viering van drieë en dat spelers nie moet spoeg en hul neuse snuit nie.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, het Donderdag ’n artikel wat Wêreldrugby oor die reëlveranderinge geplaas het in sy persoonlike Instagram-stories gedeel. Hy het die skouerophaal-emoji daarby geplaas. Erasmus sal dalk bly wees dat lande self kan kies of hulle die veranderinge wil gebruik of nie.

“Unies kan een of meer van hierdie veranderinge op ’n plaaslike grondslag implementeer, volgens verskeie regerings se riglyne met betrekking tot Covid-19,” sê Bill Beaumont, Wêreldrugby se voorsitter, in ’n verklaring.

’n Woordvoerder van Saru het by navraag gesê hulle kan nog nie sê of enige van die proefreëls geïmplementeer sal word wanneer rugby in die land hervat nie.

“Ons kyk na ’n verskeidenheid opsies en niks word buite rekening gelaat nie. Maar wat ons ook al doen, sal grootliks deur die toestand van die pandemie en die regering se reaksie daarop in alle gebiede bepaal word.”

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) het bevestig hy sal nie enige van die reëlveranderinge in werking stel nie.

“Dit lyk nie asof daar enige gemeenskaplike oordrag in Nieu-Seeland is nie, so ons omstandighede is anders as in ander lande. Ons voorsien nie die behoefte om die voorgestelde reëls in te stel nie,” het Karen Rasmussen, NZR se mediese bestuurder, aan Netwerk24 gesê.

“Ons het openlik met Wêreldrugby hieroor gepraat en hulle verstaan ons unieke situasie.”

Nieu-Seeland se Superrugby Aotearoa, ’n plaaslike kompetisie waarin die vyf Nieu-Seelandse Super-spanne sal deelneem, begin in Junie.

Dis nog onduidelik wanneer rugby in Suid-Afrika sal hervat. Saru het op 21 April bevestig ’n “plaaslike unie- en franchise-kompetisie tussen Junie en Augustus word as alternatief vir die Superrugby- en Pro14-reekse beplan”. Alles hang egter van die inperkingsvlakke af en hoe die regering die pandemie verder gaan bestuur.

Meer oor:  Proefreëls  |  Rugbyreëls  |  Wêreldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.