Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru beplan besparings: Minder kontrakte vir spelers, kleiner salarisse
Kontrakstelsel: Rugby-revolusie kom

Die rugbylandskap in Suid-Afrika gaan drasties verander as ’n plan deurgevoer word om die kontrakteringstelsel in die land te reguleer. Groot finansiële besparings is die oogmerk van die plan.

Dit sal trouens die ingrypendste verandering in SA rugby wees sedert die spel professioneel geword het.

Die ingrypende veranderinge sal nou op 29 Augustus op ’n vergadering deur Rassie Erasmus, Springbok-afrigter en Saru se direkteur van rugby, met die presidente en uitvoerende hoofde van al die unies bespreek word.

Die verslag met die aanbevelings is deur Eugene Henning van MyPlayers en Barend van Graan van Sareo opgestel.

Met die meeste van die land se rugbyunies in ’n geldkrisis, wil Saru die kontrakteringstelsel herontwerp om die groep professionele rugbyspelers met meer as die helfte te verminder.

Dit word beskou as die enigste manier om te kan oorleef en die beste spelers in die land te hou.

Tans is daar 989 professionele rugbyspelers in die land, Hulle kos Saru en sy unies byna R480 miljoen per jaar net aan salarisse en put die geldkoffers erg uit.

Die verandering sal Suid-Afrika meer in ooreenstemming bring met die voorste oorsese rugbylande, alhoewel Suid-Afrika steeds die meeste professionele rugbyspelers ter wêreld sal hê. Engeland het 910 spelers, Nieu-Seeland het tussen 440 en 500 spelers op kontrak, terwyl Australië 225 en Ierland tussen 180 en 200 spelers op hul boeke het.

Die nuwe model is gemik daarop om die salarisbegroting landwyd met R75 miljoen te verminder met ’n maksimum van net 459 beroepspelers. Dit sluit die nasionale sewesspanne vir mans en vroue in.

Daar word ook voorsiening gemaak vir nog 338 semi-professionele spelers, wat hoofsaaklik by rugbyunies sal wees wat nie by Superrugby en Pro14-kompetisies betrokke is nie. ’n Groep “senior ontwikkelingspelers” word ook in die vooruitsig gestel – junior spelers wat geoormerk is om Superrugby te speel.

Rugbyunies sal ingelig word dat kleiner groepe gekontrakteerde spelers van 2019 afgedwing sal word.

Daar word voorsiening gemaak vir vier Super-franchises, twee Pro14-franchises, met ’n moontlikheid van twee bykomende spanne (Pumas en Griekwas) en ses ander unies wat as voedingsbronne vir die franchises sal dien.

Die voorgestelde model behels:

  • Franchises sal net 40 professionele spelers kan kontrakteer (tans is die gemiddeld 45 spelers);
  • Die getal Super- en Pro14-spelers sal van 275 na 240 verminder word;
  • Spanne wat in ’n internasionale kompetisie soos Pro14 op dieselfde tyd as ’n plaaslike kompetisie soos die Curriebeker meeding, sal toegelaat word om nog ses professionele en nege semi-professionele spelers te kontrakteer;
  • Daar sal voorsiening gemaak word vir 30 bykomende “senior-ontwikkelingspelers” (tans is die gemiddeld 37). Dit sal die totale getal “senior ontwikkelingspelers” oor die land heen van 227 na 180 verminder;
  • Kleiner unies, wat nie in ’n internasionale kompetisie speel nie, sal hul spelersbegroting na R5 miljoen moet verminder (tans is die gemiddeld R9 miljoen);
  • Die kleiner unies se spelerskorps sal van ’n gemiddeld van 35 tot 40 verhoog word;
  • Die kleiner unies se jaarlikse salarisbegrotings sal van R72 miljoen na R40 miljoen verminder;
  • Daar sal geen beperkinge wees op die werwing van “junior ontwikkelingspelers” nie, maar net die franchises sal o.19- en o.21-groepe kan werf. Die ander ses unies sal ’n o.20-groep kan werf;
  • Voorsiening word gemaak vir ’n aansporingskema vir unies om hul besparings beter te gebruik.

R45 miljoen sal as ’n aansporingskema vir Super-franchises eenkant gesit word, terwyl R15 miljoen vir nie-Super-franchises sal geld.

Daarby sal voorsiening gemaak word vir Springbok-kontrakte wat tans 30% van ’n speler se pakket kan wees, en ’n oproepfooi na ’n nasionale span wat aan unies betaal sal word.

As die voorstelle deur al die unies aanvaar word, sal dit einde 2018 en voor die begin van die 2019-seisoen ingestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.