Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugby se oorentoesiastiese Jack Russell

Hy klink soos ’n “sy”, wat soos ’n oorentoesiastiese Jack Russel-hondjie nie kan ophou om die bal te jaag nie.

Dis dalk wat iemand kan dink as hy ’n uitsending van ’n rugbywedstryd waarin Marika Koroibete speel op ’n Afrikaanse radiostasie luister.

Marika Koroibete – die beste vleuel in wêreldrugby? Foto: Getty Images

Want Marika is mos ’n naam waarmee meer Afrikaanse vroue as mans spog, of hoe?

En dit kan tog seker nie waar wees nie . . . geen rugbyspeler se naam kan soveel keer in ’n uitsending genoem word nie, die kommentator maak sekerlik iewers ’n fout!

Tog nie, sien jy wanneer jy dan self na ’n wedstryd kyk waarin die Wallabies se Fidjiaanse vleuel speel.

Koroibete gaan op die veld soos losvoorspelers uit ’n ander era tekere. Hy jag die bal soos Rob Louw dit gedoen het, en voor hom, Hennie Muller.

Maar Koroibete is ’n vleuel en dis nou ’n ander era. Dis ’n era waarin spelers weliswaar veelsydig moet wees en op die verdediging en aanval ander lyne inneem as destyds, maar Koroibete se spel is verregaande.

Hy speel linkervleuel en duik gereeld op regtervleuel op. Niks snaaks daaraan nie.

Maar dan gaan hy nie weer terug linkervleuel toe nie. Hy duik sommer op skrumskakel of losskakel op.

Of hy dons in ’n losskrum in waar dit nie regtig van hom verwag word nie en jy sou dalk dink sy afrigter sit op die paviljoen en vloek hom en skree soos ’n mal ding op sy handradiotjie: “Sê vir Marika sy, ag ek bedoel hy, moet in posisie kom!”

Koroibete word moeilik gekeer wanneer hy eers die doellyn in sig het. Foto: Getty Images

Toe nie. Dit lyk of Koroibete se afrigters (en spanmaats) besluit het om hom maar te laat begaan.

En waarom nie, want Koroibete is sweerlik tans verreweg die beste vleuel in die wêreld.

Koroibete (27) is in die Fidjiaanse gehuggie Naraiyawa, “so vier uur van Suva af” (volgens hom), gebore.

Daar was nie iets soos selfone of elektrisiteit nie. Hy het saam met sy ouer broer en jonger suster en sy ouers in ’n huisie, wat uit een kamer uit bestaan het, gewoon. ’n Gordyn het die volwassenes en die kinders se slaapplek geskei. Daar was net een bed vir die kinders, maar hulle het glo nie omgegee om op die vloer te slaap nie, solank daar darem ’n kombers was.

Koroibete raak soms ’n bietjie wild wanneer hy verdedig, soos TJ Perenara van die All Blacks hier uitvind. Foto: Getty Images

“Ons het buite vuur gemaak tussen vier klippe. Ons het nie vuurhoutjies gebruik om die vuur aan te steek nie, ek het twee stokkies gevryf tot daar ’n vlammetjie was,” vertel Koroibete.

Sy pa het cassavas, taros en kavas (soorte knolgewasse) geplant en hulle het dit aan “ouens wat voertuie gehad het wat mark toe gegaan het” verkoop.

Koroibete beskryf hom en die inwoners van Naraiyawa as “bosmense”, wat “bang is vir die see”.

Hy was omtrent 16, 17 jaar oud toe hy in rugbywedstryde in Suva rugbyliga-talentsoekers se aandag getrek het.

Toe hy weer sien, speel hy rugbyliga in Australië. Met die eerste geld wat hy verdien het, het hy vir sy ouers ’n TV en ’n satellietskottel gekoop sodat hulle na sy wedstryde kon kyk.

’n Bietjie later het hy vir hulle ’n huis laat bou en sonpanele laat installeer. En nog later het hy sy pa met ’n viertrek-voertuig verras.

In 2016 het die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, met Koroibete se bestuurder, Sam Ayoub, gesels en gevra of die speler nie rugbyliga wou los en oorkom vyftienman-rugby toe nie.

“Hy kan vir die Wallabies speel,” het Cheika gesê.

Dit was vir Koroibete towerwoorde daardie.

Damian de Allende (regs) is dalk langer as Koroibete, maar die Fidjiaan se baard is weliger. Foto: Getty Images

“Vra die kinders by die huis vir wie wil hulle speel, Fidji of Australië en hulle sal antwoord: ‘Australië natuurlik,” sê Koroibete.

“Nie vir die All Blacks nie, vir Australië. Ons hou nie van die All Blacks nie as gevolg van die sewes. Daar is groot wedywering tussen Fidji en die All Blacks in sewes.”

Nou ja, Koroibete begin toe vir die Melbourne Rebels rugby speel en Cheika het hom gou na die nasionale span opgeroep.

Vandag is Koroibete ’n staatmaker in die Wallabies se span. Hy is sekerlik een van die eerste name wat Cheika neerskryf wanneer hy sy span kies.

“Ek geniet sy eerlikheid. Hy is ’n maklike speler om af te rig,” sê Cheika oor Koroibete.

“Hy soek altyd werk. Jy sal hom gereeld in die middel van die verdedigingslyn sien opduik. Ek weet nie altyd hoe kom hy daar nie.”

Met of sonder die bal, kry Koroibete dit reg om ’n paar spelers op ’n slag besig te hou.

Met sy verdediging skort daar niks, hoewel hy geneig is om soms ’n bietjie oorywerig te raak en ’n teenstander met ’n gevaarlike duikslag neer te vel.

Dié gewoonte het hy in rugbyliga aangeleer, verduidelik Koroibete.

Dis baie moeilik om te verstaan wat Koroibete hier in ’n toets teen die Poemas probeer doen het. Foto: Getty Images

“Jy leer daar hoe om jou teenstander te intimideer. Dis ’n kopspeletjie, sodat hy nie weer aan die bal wil vat nie.”

Dave Wessels, die Rebels se breier, noem Koroibete die “stil sluipmoordenaar”.

“Almal weet hoe goed hy is om bewegings af te rond en hoe balvaardig hy is,” sê Wessels. “Maar dis die ander goed, sy werk weg van die bal, wat hom so laat uitstaan.”

Bronne: playersvoice.com.au; rugbypass.com; stuff.co.nz.

* Kyk hier na ’n paar van die drieë wat Koroibete vanjaar in die Super-reeks gedruk het: 

Meer oor:  Reds  |  Toetsrugby  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.