Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbybaas geskors ná seksklag

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ’n lid van sy uitvoerende raad, Hein Mentz, geskors nadat hy skuldig bevind is op ’n klag van seksuele teistering.

Hein Mentz is as uitvoerende raadslid van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie geskors. Foto: Gallo Images

’n Woordvoerder van Saru het Vrydag bevestig Mentz is verlede maand weens ’n “ernstige oortreding” van die beheerliggaam se gedragskode geskors nadat ’n tugproses afgehandel is.

“Mnr. Mentz is geskors uit Saru se uitvoerende raad en alle rugbykomitees vir die oorblywende tyd van sy termyn,” sê die woordvoerder.

Mentz, wat in April 2018 tot Saru se uitvoerende raad verkies is, sou tot in Maart 2022 in sy amp gedien het.

Saru sê die rede vir Mentz se skorsing is vertroulik, maar Mentz het die besonderhede van die voorval self Vrydag by navraag aan Netwerk24 bekend gemaak.

Die naam van die slagoffer is aan Netwerk24 bekend, maar word weerhou.

Mentz, wat aanvoer dat hy onskuldig is, het die voorval as volg in ’n dokument uitgestippel: “Tydens die groet-proses tussen my en ’n vroulike werknemer van Saru, het my hand, ná haar tradisionele en gebruiklike omhelsing, na bewering aan haar sitvlak geraak, oftewel – haar weergawe – ‘slapping me on the behind’. (Sy) het daarna ’n klag van seksuele teistering teen my aanhangig gemaak.”

Hy het bygevoeg dat die voorsittende beampte van die tugverhoor sy “bona fide-optrede” aanvaar het, maar dat hy skuldig bevind en ’n boete opgelê is.

“Ek was aanvanklik geskok, ontnugter en teleurgesteld met die bevinding. Met nabetragting en advies, kom ek tot die besef dat, in (die) gees van die tyd waarin ons leef, die bevinding ’n fyn genuanseerde en noodwendige uitspraak was.

“Die klaer se voorligting, sensitiwiteit, vorige ervarings en gewaarwording tydens die voorval is die deurslaggewende faktor vis-à-vis my handeling en bedoeling. Dit bring my tot die uiters pynigende dolerende aanvaarding van die uitspraak.”

Mentz se straf is verswaar nadat Saru se uitvoerende raad volgens hom suksesvol teen die aanvanklike bevinding geappelleer het. Hy is gevolglik tot die einde van sy termyn geskors.

Volgens Mentz, wat “verblind was deur my wete van die waarheid en onskuld in hierdie aangeleentheid”, het hy ’n “blindelingse oordeelsfout” begaan deur nie te bedank met die kennisgewing van appèl nie.

“Ek het egter in die verblinding van my eie wete van die waarheid ongelukkig nie in daardie stadium daardie insig/oordeel gehad nie.”

Volgens Mentz was dit vir hom onmoontlik om te bewys dat hy nie slegte bedoelings gehad het nie.

“Die toevallig en nou noodlottige voorval het tot gevolg gehad dat die klaer se weergawe van haar ervaring swaarder geweeg het as my eerbare bedoeling en die omstandighede. Die bewyslas hiervan is en was vir my ’n praktiese onmoontlikheid.

“Verswarend in die verhoor en appèlbevinding was die feit dat ek deurentyd nie berou getoon het nie. Ek kan en sal nooit verskoning vra of berou toon ter wille van ’n saak waarin ek onskuldig is en wat absoluut teen my kultuur en lewensbeskouing is (nie). Ek dra inderwaarheid die gevolge van my lewensoortuiging.”

Volgens Mentz is hy jammer dat hy nie bedank het en sodoende verdere verleentheid en teleurstelling vir almal gespaar het nie.

“Jammer. Die waarheid maak my vry,” sê hy in die dokument.

Mentz dien al lank as rugbyadministrateur en was voor sy verkiesing as uitvoerende raadslid van Saru die president van die Mpumalanga-Rugbyunie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.