Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbybaas onthou hoe Thomas bieg

Hy onthou hoe ’n groot wroeging dit vir die Walliese rugbyster Gareth Thomas was om vrede met sy seksualiteit te maak en daarom bepleit Scott Johnson, Australië se direkteur van rugby, vir inklusiwiteit in dié sport.

Israel Folau se rugbyloopbaan is waarskynlik iets van die verlede ná sy uitlatings op sosiale media dat gay mense hel toe gaan. Foto: Getty Images

Johnson steun Rugby Australië (RA) se beoogde besluit om Israel Folau te pos vir sy uitsprake op sosiale media dat gay mense hel toe gaan. RA gaan Folau se kontrak beëindig indien hy nie by sy gedragskodeverhoor op 4 Mei ’n goeie verduideliking kan gee vir sy omstrede uitlatings op sosiale media nie.

Die Waratahs het reeds aangedui dat hul pad met dié van die sterheelagter gaan skei.

Vir Johnson is dit ’n sensitiewe saak, aangesien hy die eerste mens was aan wie Thomas, ’n veteraan van 103 toetswedstryde, erken het hy is gay.

Scott Johnson, Australië se direkteur van rugby, sê Gareth Thomas het hom genader toe hy wou uitkom oor sy seksuele oriëntasie. Foto: Getty Images

In 2006 het Thomas, ’n voormalige kaptein van die Britse en Ierse Leeus, by Johnson in trane uitgebars ná ’n gelykopuitslag van 29-elk teen die Aussies in Cardiff. Thomas het toe vir sy voormalige afrigter vertel sy huwelik is op die rotse en dat hy hom ’n geheim moes vertel wat swaar op sy gemoed rus.

Johnson het Thomas vroeër by Wallis afgerig, maar was op daardie tydstip die Wallabies se hulpafrigter. Nietemin het die Walliese heelagter met Johnson gepraat en dié breier het gereël dat Thomas met sy spanmaats oor die kwessie praat.

“Die sport het Gareth in ’n baie donker tydperk toegelaat om uit te kom en vandag kyk ek net na die sukses wat hy behaal het,” het Johnson volgens The Sydney Morning Herald gesê.

“Oor Israel sal ek my oordeel voorbehou totdat hy ’n kans gehad het om sy kant van die saak te stel, maar as ’n sport en dít waarvoor RA staan, ondersteun ek dit om alle tipes mense in te sluit.”

Johnson sê hy onthou dat Thomas bykans uitgetree het oor struwelinge met sy seksuele oriëntasie.

“Hy was getroud en het gesukkel. Ná die toets in Cardiff is ek na die teenstanders (Wallis) se kleedkamer geroep, want ek was die enigste een met wie hy wou praat.

Die voormalige Walliese heelagter Gareth Thomas is openlik gay. Foto: Getty Images

“Ek het die volgende 24 uur deurgebring deur met sy spanmaats en afrigters te praat, want hy kon nie. Dit strek verby rugby. Dit is menslike verhoudings.”

Thomas, wat sedertdien erken het hy het selfmoordneigings gehad, het verlede week teruggekap na Folau se uitlatings op sosiale media.

“Dít wat hy gesê het oor gaywees wat ’n keuse is, is baie onkundig,” sê Thomas.

“As ’n gay man kan ek eerlikwaar sê, ná alles wat ek in my lewe deur is, as daar ’n keuse was, sou ek seker met tye gekies het om nie gay te wees nie.”

Johnson sê hy ondersteun RA se standpunt oor die sage.

“Ons soek ’n spel wat almal insluit. Jy rig nie net af om bekers te wen nie, jy rig af om mense beter te maak. Mense kan sê wat hulle wil. Dit is waarvoor ons as ’n sport staan, wat belangrik is.” – The Sydney Morning Herald

Meer oor:  Rugby Australië  |  Gay  |  Israel Folau  |  Gareth Thomas  |  Scott Johnson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.