Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbybase verbreek hul stilte oor Farrell

Wêreldrugby het op die mees subtiele wyse, en sonder om die voorval op die naam te noem, gereageer op die veelbesproke Owen Farrell-duikslag op André Esterhuizen in verlede naweek se toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Twickenham.

Owen Farrell se veelbesproke duikslag op André Esterhuizen. Foto: AP

Farrell is nie vir dié duikslag, waarin hy in die doodsnikke vir Esterhuizen met die skouer geloop het sonder om sy arms te gebruik, deur die skeidsregter, Angus Gardner, gestraf nie.

Dié voorval het ’n enorme debat ontketen. Die menings van voormalige spelers en -skeidsregters was verdeeld.

Die voormalige Ierse senter Brian O’Driscoll en die oud-Bokflank Keegan Daniel tel onder dié wat glo Gardner het die regte besluit geneem.

Die oud-blasers André Watson en Jonathan Kaplan verskil van hulle, terwyl die voormalige Engelse losskakel Andy Goode ’n pleidooi gelewer het vir Wêreldrugby om te reageer.

In ’n verklaring wat dié beheerliggaam Donderdagmiddag oor vuilspel en kontak met spelers se kop uitgereik het, is daar laag af ’n sinnetjie, wat as ’n subtiele reaksie op die Farrell-skouerloop gelees kan word.

“Nadat onlangse wedstryde, insluitende dié van die afgelope naweek wat buite die toetsvenster geval het, hersien is, is wedstrydbeamptes weer herinner aan hul verpligting om onwettige duikslae sonder arms, hoë duikslae en duikslae waar daar met die voorarm of elmboog gelei word, te straf,” lui die verklaring, wat ná aanleiding van ’n werksessie met afrigters en wedstrydbeamptes uitgereik is.

“Dít val onder (Wêreldrugby) se voortgesette toewyding om kopbeserings te voorkom. Dit is weer benadruk by ’n hoogs produktiewe werksessie met wedstrydbeamptes. Dié sessie het oor dissipline gehandel.”

Rassie Erasmus, die Bokke se breier, het ná die toets op Twickenham, wat Suid-Afrika met 11-12 verloor het, op ’n sarkastiese wyse op vrae oor dié duikslag geantwoord.

“Dit is duidelik baie doeltreffend. As dit dan wettig is, moet ons ook so begin oefen,” het hy gesê.

By ’n oefening in Parys, waar die Bokke Saterdag teen Frankryk speel, het hy daad by woord gevoeg en ’n “steelvideo” van Erasmus en die verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, wat vir Esterhuizen “leer” om soos Farrell te duik, het sosiale media soos ’n hoogvat getref.

Die video kan gesien word as ’n dwarsklap wat na Wêreldrugby gemik is, vir sy versuim om teen Farrell of Gardner op te tree.

Oor dié video, wou Wêreldrugby nie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Owen Farrel  |  Wêreldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.