Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbybase versigtig om oor skuif te praat

Dit is te sensitief en nie eens die moeite werd om daaroor te bespiegel nie.

So het twee van Suid-Afrika se rugbyringkoppe Maandag gereageer op berigte die naweek dat die plaaslike spanne in die Superreeks dit ernstig oorweeg om eerder in die Pro14-reeks in Europa te gaan speel.

Willem Strauss. Foto: Gallo Images

Tans neem net die Vrystaatse Cheetahs en die Southern Kings aan die Pro14 deel.

Willem Strauss, die president van die Blou Bulle, sê hy wil nie eens ’n mening daaroor lug nie.

“Dit is iets waaroor Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) sal moet besluit. Daar is soveel regulasies van Sanzaar (die beheerliggaam van Superrugby) wat nagekom moet word en ook borge en ander belanghebbendes wat betrokke is, dat dit vergesog sal wees vir my om nou iets daaroor te sê,” het Strauss gesê.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, deel Strauss se mening dat dit ’n baie sensitiewe saak is en dat dit onvanpas sal wees om nou ’n mening daaroor te hê.

Saru hou Woensdag ’n algemene vergadering via ’n video-konferensie waar al die belanghebbendes van Suid-Afrikaanse rugby betrokke gaan wees.

Die moontlikheid bestaan dat ’n potensiële skuif dalk net op die agenda kan wees, hoewel dit nie ’n uitgemaakte saak is nie.

Met Nieu-Seeland en Australië wat verlede week stemme laat opgaan het dat hulle die pad vorentoe dalk sonder Suid-Afrika en sy spanne kan loop, word die gevoel in sekere kringe al hoe sterker dat Suid-Afrika elders moet kyk vir ’n ander heenkome.

Europa word al geruime tyd as ’n alternatief genoem en verskeie redes word daarvoor aangevoer.

Een is dat die tydsverskil soveel meer gerieflik is en dat die reis soontoe nie so uitmergelend sal wees soos wat die geval na Australasië en Argentinië is nie.

Daar is ook ’n sterk gevoel dat as die geluide vanuit Doer Onder al hoe harder en dringender word om die toekoms sonder Suid-Afrika aan te durf, die groot sprong geneem moet word om die jare lange verbinding met Superrugby te verbreek en ander opsies te oorweeg.

Dit kan op die lange duur in Suid-Afrikaanse rugby se beste belang wees.

Strauss en Straeuli het albei bevestig dat die wiele by hul unies nog nie op die oefenveld begin rol het nie.

“Dinge is eintlik nou maar taamlik rustig by ons. Ons wag om van Saru te hoor wat die regeringsregulasies vereis en sal dan ons dinge doen rakende die hervatting te midde van die koronavirus,” het Strauss gesê.

Straeuli het bevestig dat daar Maandag weer ontsmetting by Ellispark se kantore gedoen is en dat sekere spelers Dinsdag aan mediese toetse onderwerp sal word.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Pro14  |  Leeus  |  Willem Strauss  |  Rudolf Straeuli  |  Superrugby  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.