Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbyblits hoef nie meer bus te ry nie
Mosolwa Mafuma, rugbyvleuel van die Shimlas, is as die Varsitybeker-reeks se speler van die reeks gekroon. Hy het in ’n kort tydjie met sy uitsonderlike vaart beïndruk en is die jongste speler nog wat so vereer is. Foto: Saspa
Mosolwa Mafuma wat Maandag as die Varsitybeker-reeks se speler van die reeks aangewys is, het in ’n kort tydjie groot indruk met sy uitsonderlike vaart gemaak. Hy is die jongste speler nog wat eer te beurt geval het. Foto: Saspa

Die blitsige Shimla-vleuel Mosolwa Mafuma hoef nou nie meer gereeld die bus van Johannesburg na Bloemfontein te haal nie.

In elk geval, nie vir die volgende jaar nie.

Mafuma is Maandag as die Varsitybeker se speler van die reeks aangewys en een van sy pryse is ’n geborgde voertuig vir ’n jaar.

Hy en sy suster in die Goudstad moes vanjaar ’n voertuig tussen hulle deel en wanneer dit haar beurt vir die voertuig was, moes hy dit vir haar neem en met die bus na Bloemfontein terugkeer.

Dié 20-jarige eerstejaarstudent in sielkunde aan Kovsies is die jongste van die nege spelers wat al met die speler van die reeks-eerbewys vereer is.

Twee Shimlas het dit voorheen vermag: Boom Prinsloo as 21-jarige speler in 2010 en Oupa Mohoje as 23-jarige speler in 2013.

Mafuma was verlede jaar nog op die skoolbanke van die St. Benedict’s Boys College in Johannesburg. Sy sewe drieë was die naasmeeste in die reeks en hy het rugbykykers deurgaans regop laat sit met sy verbysterende vaart. Die spoedvraat het gereeld sy regstreekse teenstanders met die grootste gemak geklop en hulle na donkies teen ’n blitsige Ferrari laat lyk.

Dit kom dus as geen verrassing nie dat hy met ’n beste tyd van 20.37 s in die 200 m spog en in 2013 die nasionale o.17-kampioen was.

Mafuma is ’n laat bloeisel in rugby. Hy het hom eers verlede jaar op die spel begin toespits.

“My afrigter het vir my gesê daar is ’n groter toekoms vir my in rugby as in atletiek. Dit is toe dat ek die skuif gemaak het. Omdat ek ’n jaar te oud vir my jaargroep was, kon ek nie vir die Leeus se provinsiale skolespanne in aanmerking kom nie.

“Gelukkig het André Tredoux van die Shimlas my verlede jaar vir my skool sien speel en my hierheen gelok. Ek het ook aanbiedings van die Haaie en die WP gehad, maar die Cheetahs se aanbod was die aanloklikste,” het hy gister uit Kaapstad gesê waar hy ’n oefenkamp van die Junior Bokke bywoon.

Sy spel in die Varsitybeker-reeks het die aandag van die Junior Bokke se keurders getrek. Hy was in twee van die Shimlas se sewe wedstryde die speler van die wedstryd.

Mafuma het gesê hy hoop om, benewens insluiting in die Jong Bokkies se groep na die Wêreldbekertoernooi, ook nog vanjaar sy Superrugby-toetrede te maak.

Meer oor:  Bus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.