Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbylui groet ‘Oom Chris’ met swaar hart

Huldeblyke het van oral ingestroom met die nuus dat een van die noorde se groot rugbygeeste, Chris Buitendach, die afgelope naweek sy stryd teen pankreaskanker verloor het.

Chris Buitendach in sy dae as breier van Tuks se Varsitybeker-span. Foto: Reg Caldecott

Buitendach (68), ’n geliefde afrigter, wat diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap het, het 28 spanne (nasionaal, provinsiaal en klub) tot eindstryde geneem in sy loopbaan wat oor 43 jaar gestrek het. Sy spanne het boonop die helfte van dié wedstryde gewen.

Buitendag, of Oom Chris soos hy in rugbykringe bekend gestaan het, se gedenkdiens was Woensdag, met oud-Springbokke soos Wynand Claassen, Gerrie Germishuys, Krynauw Otto, Jacques Olivier en Thys Lourens wat aan hom hulde gebring het.

Hy was veral gekenmerk aan sy geesdrif vir die spel en bereidwilligheid om deurlopend sy kennis oor rugby uit te brei.

Hierdie dryfkrag het van hom een van die land se mees ervare afrigters gemaak, met sy loopbaan wat reeds in 1977 vlamgevat het.

Hy het homself later as ’n skrumghoeroe gevestig en selfs in 1997 vir Nick Mallet as skrumkonsultant bygestaan by die Springbokke.

Dit was ook nie net in senior rugby waar Buitendach sy stempel afgedruk het nie.

Van 1978 tot 1991 was hy een van die keurders vir die Laeveld se o.18-Cravenweek-span, voordat hy van 1993 tot 1996 dié rol vir Noord-Transvaal vervul het.

Hy het ook as onderwyser en afrigter by die hoërskole Rob Ferreira en Nelspruit diens gedoen.

Jimmy Stonehouse, die Pumas se afrigter, was ook vol lof vir sy vriend, wat hy sedert die 1980’s ken, toe hulle onderskeidelik vir die Nellies en Hoërskool Ermelo afgerig het.

“My vriend, rus sag. Die rugbywêreld gaan leeg wees sonder jou kennis. Ek sal ons kuiers en klinieke mis. Dankie dat jy altyd daar was vir my en dankie my ou groot maat dat jy altyd bereid was om jou kennis te deel,” het Stonehouse op Facebook geskryf.

Buitendach het as breier die Suid-Afrikaanse span tot die eindstryd gevoer by die Wêreldbeker-toernooi vir studente op eie bodem in 1996, waar hulle toe teen Frankryk vasgeval het. Dit was die beste vertoning wat Suid-Afrika tot nog toe by dié toernooi kon vermag.

In 1997 is hy as hulpafrigter vir Eugene van Wyk by die Blou Bulle betrek en ’n jaar later het hy dié span tot Curriebeker-glorie help voer, toe hy die Westelike Provinsie in die eindstryd getroef het.

In 2016 het hy Tuks afgerig toe hulle die titel by die Suid-Afrikaanse studentetoernooi verower het. Hy het dié span in dieselfde jaar ook tydens die Varsitybeker-reeks touwys gemaak.

Buiten Suid-Afrika het hy in 2005 as skrumkonsultant vir Rusland se nasionale span opgetree tydens ’n toer na Suid-Afrika. Hy is in 2016 as voorspeler-afrigter van Pole aangestel, voordat hy in 2019 ook dié leisels by Indië se nasionale span geneem het.

“Ons is besonder hartseer om van die afsterwe van Chris Buitendach te hoor. Ons was bevoorreg om hom as ons voorspeler-afrigter van die nasionale Indiese spanne in 2019 te hê. Hy was ’n absolute juweel van ’n mens en gaan werklik gemis word,” het Rugby Indië luidens ’n verklaring gesê.

Conrad Boshoff, waarnemende logistieke hoof by TuksRugby, het Buitendag as ’n “uitsonderlike” mens beskryf.

“Hy was ’n ware Tukkie en ’n regte ambassadeur vir die spel van die lewe. Dit het nooit net oor rugby gegaan vir Buitendach nie. Rugby was vir hom ’n hulpmiddel om waardes aan jong manne te leer. Hy het homself beskryf as ’n ‘mense-bouer’ eerder as om na homself as ’n afrigter te verwys,” het Boshoff gesê. – Sportredaksie

Meer oor:  Rugbyafrigter  |  Blou Bulle  |  Chris Buitendach  |  Oorlede  |  Tuks  |  Pankreaskanker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.