Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Verlig' ná hy spanmaats inlig hy is biseksueel
Levi Davis is die eerste beroepsrugbyspeler om sy LGBT-status bekend te maak sedert 2009. Foto: Getty Images

Levi Davis, ’n Celebrity X-Factor-ster wat Engeland se junior rugbyspanne verteenwoordig het, sê hy is verlig hy “kan nou myself wees” nadat hy in ’n selfoonboodskap aan sy spanmaats erken het hy is biseksueel.

Die 22-jarige vleuel is die eerste beroepsrugbyspeler om sy LGBT (lesbies, gay, biseksueel en transgender)-status bekend te maak sedert die voormalige Britse en Ierse Leeus-kaptein Gareth Thomas in 2009 gesê het hy is gay.

Davis het onlangs nog saam met toetsspelers soos die Springbok-losvoorspeler Francois Louw vir Bath in die Engelse Premierliga gespeel.

Hy draf nou vir die Ealing Trailfinders in die Engelse tweedeliga uit en was verlede jaar ’n ster op Engeland se Celebrity X-Factor-reeks in die rugby-sanggroep Try Star.

Davis het ’n groep-boodskap op WhatsApp aan sy spanmaats gestuur om hulle van sy seksualiteit in te lig.

“Haai ouens. Ek wou julle net iets vertel wat al vier jaar aan my knaag. Ek wil oop en eerlik met julle ouens wees, as my vriende en spanmaats. Ek is biseksueel. Dit is iets wat ek geweet het sedert ek 18 jaar oud was.”

Hy het bygevoeg: “Nie een van julle is op my radar nie . . . dit is oukei.”

Davis, wat in die Try Star-sanggroep opgetree het saam met voormalige toetsspelers Ben Foden (Engeland) en Thom Evans (Skotland), het aan die DailyMail vertel hoe sy spanmaats gereageer het.

Levi Davis (middel) saam met sy mede-rugbyspelers Thom Evans (links) en Ben Foden het in die rugby-sanggroep Try Star gesing. Foto: Getty Images

Hulle het boodskappe soos “Maat, ons ondersteun jou”, “Jy is regtig dapper”, “Dit verander niks” en “Welgedaan” aan hom gestuur.

“En toe begin hulle my spot, soos goeie vriende die spot met mekaar dryf, waaroor ek baie verlig was,” sê Davis.

“As hulle oordrewe was met ‘simpatie’, sou ek bekommerd gewees het. Ek is uiteraard steeds ’n rugbyspeler!

“Ek het my seksualiteit vir jare goed weggesteek, maar ek kon dit nie langer geheim hou nie. Ek moes hulle vertel, almal van hulle, nie net ’n uitsoekgroep nie. Ek wou nie hê dit moet in ’n geskinder ontaard nie.

“Dus het ek dit op die ingewing van die oomblik op ons WhatsApp-groep gedeel.”

Davis, wat Engeland se nasionale o-18- en o-19-span verteenwoordig het, sê hy het die afgelope vier jaar gesukkel “met ’n gevoel van skaamte, want ek het en voel steeds dat ek nie normaal is nie”.

Hy erken min van sy goeie vriende, “dalk een of twee”, of sy familie het geweet hy is biseksueel.

Davis sê hy het “oormatig vergoed” deur gereeld by ’n klomp verskillende vroue te slaap.

“Ek het gevoel ek moet hierdie machoman wees, wat ek steeds is, maar dit het gevoel dat ek dit selfs meer moes beklemtoon.

“My sielstoestand het egter daaronder begin ly en ek het baie begin drink, wat my spelpeil benadeel het.”

Davis moedig ander sportlui aan om uit die kas uit te klim.

“Daar is beslis ander rugbyspelers daarbuite. Ek voel op die oomblik vrygemaak, ek is werklik gelukkig dat dit onthul is en dat ek myself kan wees.”

Davis het ’n drie gedruk vir Bath in sy buiging teen London Irish in November 2017.

Hy het speeltyd gekry vroeg in die 2019-’20-seisoen terwyl Anthony Watson, Ruaridh McConnochie en Joe Cokanasiga in Japan was vir die Wêreldbekertoernooi.

Davis het hom in Januarie as leenspeler by die Ealing Trailfinders aangesluit en intussen ’n kontrak van twee jaar geteken.

Hy wil graag mettertyd terugkeer na die Premierliga en toetsrugby vir die Rose speel.

– Sportredaksie

Meer oor:  Lgbtiq+  |  Lgbt  |  Toetsrugby  |  Celebrity X-Factor  |  Levi Davis  |  Engelse Premierliga  |  Bath
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.